Hope verrassings by Innibos programbekendstelling

Pieter Koen.
Pieter Koen.

MBOMBELA – Innibos 2014 se feestema is nie verniet “Innibos is alles moontlik” nie. Op Vrydag 23 Mei word die program vir hierdie jaar met ‘n gratis loodskonsert by Hoërskool Bergvlam bekendgestel, en feesgangers kan sommer dáár reeds na ‘n aantal heerlike verrassings uitsien.

Buiten die puik optredes deur Bobby van Jaarsveld, Pieter Koen en BlackByrd, sal daar ook lekker pryse weggegee word – onder meer twee tablette wat deur Pronto geborg is, asook 20 kaartjies vir vanjaar se Laeveld Lugskou wat op 24 Mei plaasvind. Tien gelukkige Innibos-ondersteuners kan ook dubbel-weekskaartjies wen.

Al wat jy moet doen om hiervoor te kwalifiseer, is om daar te wees wanneer Pieter om 18:00 die loodskonsert afskop. Dié kunstenaar is die seremoniemeester vir die aand, maar gaan ook ‘n paar liedjies van sy splinternuwe album, Wat Die Hart Van Vol Is sing.

Bobby van Jaarsveld het geen bekendstelling nodig nie. Sedert hy in 2006 die musiek-arena betree het, het hierdie jong sanger by baie Suid-Afrikaners se harte ingekruip. Sy pragtige stem, vriendelike persoonlikheid en opregtheid wen daagliks vir hom nog bewonderaars. Bobby gaan van die gewildste liedjies op sy twee platinum-status-albums Net vir Jou en Wat Geld Nie Kan Koop Nie sing.

Die gewilde girl band BlackByrd het verlede jaar op die Innibos Kunspark- en Vodacomverhoog hul buiging gemaak. Die gehoor was mal oor hulle musiek en feesbestuur het besluit om hulle te nooi om ook by die loodskonsert te sing. Benewens die feit dat hulle beslis iets vir die oog is, kan hierdie drie ‘n barshou sing.

Hulle begelei hulself op akoestiese kitaar en het ‘n unieke country-klank. Hul eerste treffer All for Me, word deur verskeie radiostasies gespeel en daar word nog baie van hierdie talentvolle trio verwag.

Tydens die konsert sal hoogtepunte op die feesprogram kortliks aan toeskouers bekendgestel word. Inligting oor die top-drama-produksies, komedies, kinderteater en musiek wat verwag kan word, sal met die gehoor gedeel word.

Die volledige Innibos-programboekie sal ook beskikbaar gestel word. Dit sal feesgangers die geleentheid gee om dit deeglik te bestudeer voordat kaartjieverkope op 26 Mei afskop. Innibos vind vanjaar vanaf 2 tot 6 Julie in Nelspruit plaas.

Navrae: feeskantoor by 013-741-5294 of besoek www.innibos.co.za

Latest News

COMMENTS

hazyview_smallmpumalanganews_sallnelspruitpost_smallsteelburger_publication_newwhiteriver_smallbarbertonTimes_smallcorridor_smallgetitagriecoRD_smalllooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
On this day in history: Brenda Fassie died
On this day in history: Brenda Fassie died