Amanda Joubert onthou wat daardie aand gebeur het

Amanda Joubert.

MBOMBELA – “Hy gaan aan met sy lewe asof niks gebeur het nie, maar ek gaan nooit weer dieselfde wees nie.” Amanda Joubert (24) is ‘n lewende wonderwerk. Sy het ‘n val van etlike meter vanaf ‘n balkon oorleef waartydens sy ernstige breinbeserings en verskeie frakture opgedoen het.

Victor Wilkens (31) word aangekla van poging tot moord na die voorval op 16 Januarie verlede jaar. Amanda het Laevelder vertel wat daardie aand gebeur het. Van die besonderhede word egter weerhou uit vrees dat die hofsaak kan benadeel.

Ons gesels in haar ouerhuis. Haar ma, Celia Potgieter, moes haar werk bedank om na Amanda om te sien. Haar dogter kan nie werk nie want haar konsentrasievermoë is erg aangetas. Sy sukkel ook met haar kort- en mediumtermyngeheue. Haar linkerbeen sleep omdat impulse vanaf die brein nie reg na die voet oorgedra word nie. Van haar spiere gaan ook by tye in spasmas. Tog is sy nog net so prentjiemooi soos altyd en dit is ooglopend duidelik hoekom haar loopbaan as deeltydse model so suksesvol was.

Haar welige bos hare wat afgeskeer is kort na die voorval sodat dokters haar brein kon opereer, is besig om mooi terug te groei.

Amanda het weke lank geveg om haar lewe en dokters was nie baie optimisties nie. Sy was twee maande lank in Mediclinic Nelspruit se intensiewe sorgafdeling en sou nog twee maande in ‘n rehabilitasiesentrum spandeer. “Sy het egter ‘n fighting spirit en het almal met haar herstel verbaas,” glimlag Celia.

Haar foon het daardie oggend omstreeks 04:20 gelui. Haar man, Nick Potgieter, voeg by: “Toe die foon lui, toe sê ek vir Celia, dis Amanda. Ons gaan ‘n lang dag hê.” Celia gaan voort: “Ek het drie jaar lank gewag vir daardie oproep.”

Hulle is ingelig dat Amanda ernstig seergekry het en na Mediclinic geneem is. Victor het Celia later vertel dat hy en Amanda gelê en slaap het toe sy skielik opgestaan en die deur vir vars lug oopgemaak het. Dit was toe, volgens Victor, dat sy ewe skielik oor die balkon geval het.

Celia het egter onraad vermoed, juis weens haar dogter en Victor se stormagtige verlede. Dokters wat Amanda daardie oggend behandel het, het ook hul kommer oor ou kneusplekke en merke aan haar lyf uitgespreek.

Laevelder het vantevore berig oor Victor wat vir beweerde aanranding op Amanda aangekla is. Sy wou egter nie die trauma van ‘n hofsaak beleef nie en het met Victor buite die hof geskik, waarna die saak teruggetrek is.

“Ek was seker maar lief vir hom,” glimlag sy skaam. “Hy het gesê hy is jammer oor alles en dat hy dwelms gelos het. Hy het my belowe dit (die aanranding) sou nooit weer gebeur nie. Ek het geval daarvoor,” verduidelik sy hoekom sy later na hom toe terug is.

Sy en Victor het destyds by ‘n ouditeursfirma waar sy gewerk het, ontmoet. “Ons het dadelik gekliek. Hy was vreeslik nice met baie goeie maniere. Hy was too good to be true. Dit was toe so,” vertel sy. Hulle was sowat vyf maande lank in ‘n verhouding toe dinge begin skeefloop het. “Hy sou op my skree en my vloek en my beskuldig dat ek hom verneuk,” onthou Amanda. Sy het verskeie homoseksuele mansvriende en Victor was glo selfs jaloers as sy met hulle gedans het. “Hy was obsessief jaloers en het my vriende gestamp as hulle net met my gepraat het.”

Haar ma voeg by: “Hy wou haar absoluut beheer.” Sy vertel dat Victor destyds by haar hennepartytjie by Jock Pub & Grill opgedaag en dit telkens onderbreek het. “Amanda was net 30 minute daar, toe moes hulle ry. Die aand van my troue het hy haar al 21:00 huis toe gevat.”

Nog vier maande later het Victor Amanda na bewering begin aanrand. “Hy sou my op my lyf slaan en dan dadelik om verskoning vra. Hy sou sê hy is jammer, hy weet nie wat in hom gevaar het nie.”

Amanda glo dis die steroïede, kalmeermiddels en drank wat Victor aggressief gemaak het. Sy vertel dat sy leë pilhouers en spuitnaalde in sy kamer gekry en hom daaroor gekonfronteer het. “Hy het teenoor my erken dat hy steroïede gebruik.”

Sy het later ontdek dat hy ander dwelms ook gebruik. Sy onthou hoe hy haar een aand in ‘n badkamer by Mabalel-hotel aangerand het. Ander gaste wat daar was het ingegryp en Victor en Amanda het gery. “Op pad terug het ons by ‘n woonstelkompleks langs Papa’s Pizza gestop. Victor het my daar in ‘n badkamer in die dwelmhandelaar se woonstel toegesluit, dwelms gebruik en my daarna verder aangerand.”

Celia het die bloukolle op haar dogter se lyf gesien, maar as sy Amanda daaroor uitgevra het, het dié telkens gesê dat sy geval het. Victor het Amanda een aand na bewering so erg geskop dat sy begin bloed braak het. Hy het haar self hospitaal toe geneem en vir die dokter aan diens vertel dat sy van die trappe geval het.

Eers tóé het Amanda haar ma in haar vertroue geneem en vertel dat Victor haar aanrand. Sy het die klag gelê en ook ‘n beskermingsbevel teen hom bekom. “Ek het hom aanvanklik nie gelos nie want ek was bang vir wat hy sou doen,” verduidelik sy.

Nadat sy gehospitaliseer moes word, het sy wel alle kontak met hom verbreek. Victor het haar maande later egter weer gekontak en belowe dat hy verander het. “Sy vriende het my ook vertel dat hy die steroïede en dwelms gelos het.”

Victor en Amanda het toe hulle verhouding in Desember 2013 hervat. Celia voeg by: “op 24 Desember daardie jaar het Victor voor my gesit en gesweer dat hy klaar is met dwelms en slegte vriende. Hy het gesê hy is baie lief vir Amanda en het my gevra om hom nog ‘n kans te gee. Ek, Nick, Amanda en Victor sou die naweek na die voorval nog saam na hulle wildsplaas in die Timbavati gaan.”

Amanda het by Victor in sy woonstel in Hillside Manor ingetrek. Cat Smit, wat ook in 2013 in die nuus was nadat hy Panner Cronjé by ‘n Engen-vulstasie op die R40 aangerand het, het die woonstel met hulle gedeel.

Die aand van die beweerde aanranding, het Victor telkens na onder verdwyn. “Ek het hom gevra waarheen hy kort-kort loop en hy het geantwoord dat hy toilet toe gaan.”

Amanda het hom later na onder gevolg en hom betrap waar hy glo gesit en Crystal Meth rook het. Victor het self tydens sy borgaansoek in die hof erken dat hy die aand van die voorval dwelms gebruik het. “Ek het die pypie by hom gegryp en gebreek. Toe sien ek net demone in sy oë. Ek het besef ek moet daar wegkom.”

Amanda het probeer weghardloop waarop Victor haar glo aan die hare beetgekry het. Hy het na bewering ‘n mes teen haar gekeel gedruk en gesê: “Vanaand slag ek jou soos ‘n f****n vark!” Sy kan ook onthou dat hy haar kop herhaaldelik teen ‘n muur gestamp het. \

Amanda was aktief voor die voorval en het onder andere gedraf en gedans. Sy sal dit dalk nooit weer kan doen nie. “Ons gesin se lewens is verwoes,” voeg Celia by. Intussen hanteer Amanda dit maar dag vir dag. Sy gebruik anti-epileptiese medikasie en probeer hard om gewig op te tel. “Ek eet nou sulke T-bone steaks,” beduie Amanda met haar hande en glimlag. Duidelik skort niks met haar humorsin nie.

Lees ook:

• Victor Wilkens in hof na Amanda Joubert se val van balkon

Victor Wilkens erken hy is dwelmafhanklik

Victor van rehabilitasiesentrum na Nelspruit gebring

“Victor het my kop teen ‘n muur gestamp”, lui Amanda se verklaring

Victor Wilkens: staat se saak bevraagteken

 

  AUTHOR
Nicolene Smalman
News editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Victor Wilkens back in court over illegal firearm

Thanx for your referral. We have no doubt your friends will love our newsletter as much as you!

Don't forget to verify your email.

to our FREE newsletter
SUBSCRIBE to our FREE newsletter.




SELECT your titles:

Barberton Times
Corridor Gazette
Hazyview Herald
Lowvelder
Mpumalanga News
Nelspruit Post
Steelburger News
White River Post


Your details:


Your friends:

I didn't sign up for this
I'd like to see and read more... (Please indicate in comments section below)
I'm relocating (Please indicate where to)
Other