Bekende bedelaarspaar gesels oor vrou se boepie

Cundy en Wayne

MBOMBELA – Ontmoet vir Wayne Smith (26) en Cindy Snyders (31) – die rietskraal man met die talle tatoeërmerke op sy arms en die oënskynlike swanger vrou met die witgebleikte hare – wat daagliks op die R40/Samora Machel-kruising staan en knieknik vir ‘n paar rand.
Hulle is al etlike jare lank bekende gesigte by die verkeersligte tussen Tiger Wheel & Tyre en die N4/R40-kruising. Hulle “werk” lang ure – vanaf ongeveer 08:00 tot 17:00 – in die bloedige son of gietende reën.
Cindy het van daardie blou oë wat tot in jou siel kan sien en sy beduie altyd met ‘n hand na haar mond dat sy smag na iets te ete. Sy was onlangs die onderwerp van ‘n hewige debat op Facebook. Besorgde inwoners het gegons oor haar boepie en gepleit dat “iemand” ingryp en hulle ontferm oor dié “swanger” vrou wat moet staatmaak op aalmoese van Samaritane. Twak, het past. TJ Maré van Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) en sy vrou, Brenda gesê en beweer dat Cindy ‘n histerektomie ondergaan het en nie kán swanger raak nie.
Sy het al (teen betaling) haar magie vir motoriste gewys. Hoewel dit wil voorkom asof dit nie regtig groter geword het die afgelope paar maande nie, is dit duidelik dat dit nié ‘n kussing is wat voor by haar broek ingedruk is nie.
Cindy self hou vol sy is swanger en was glo net Dinsdag weer vir ‘n ondersoek by Rob Ferreira Hospitaal. Of dit die waarheid is, sal net die tyd leer.

Laevelder het haar al talle kere vir ‘n onderhoud genader, sonder sukses. Sy het uiteindelik ingestem en die koerant het Woensdag met hulle gesels.

Wayne is in Mbombela gebore en Cindy in Groblersdal. Sy was in Hercules in Pretoria op skool en hy in Belfast Tegnies. Beide is uit die huis geskop toe hulle verslaaf geraak het aan heroïene. “Ons het goed uit hulle huise uit gevat om te verkoop en ons het hulle vertroue verloor.”
Wayne reken dis sy pa se dood wat hom tot dwelms gedryf het twee jaar gelede. Beide se ma’s bly hier in die stad en help blykbaar uit met skoon klere en ‘n paar rand waar hulle kan. Ander familielede verbied hulle egter om naby die huis te kom.

Lees die verhaal oor Mark Mattews, en sy voormalige lewe op die straat hier
Dié twee slaap snags teen Rob Ferreira Hospitaal se heining en vrees glo daagliks vir hulle veiligheid. Dít terwyl Maré blyplek vir beide het en hulle nie op ‘n waglys is soos wat hulle beweer nie.
Wayne het vir Cindy deur ‘n vriend ontmoet toe hy by Starco Engineering gewerk het. Hy is glo afgedank toe die eienaar oorlede is en die nuwe eienaar na bewering meer gekwalifiseerde ingenieurs aangestel het. Hy het later by Glasfit gewerk waar hy en ‘n kollega bedank het en Phalaborwa toe verhuis het. Dié onderneming het bevestig dat hy wel daar werksaam was, maar slegs vir vier maande. Daar was nie genoeg loswerkies nie en Wayne het maar na Mbombela teruggekeer.

Lees ook: Mbombela se ‘Pappa van die straat’staan sy man
Waar hulle gewoonlik genoeg van die gemeenskap se geld ingepalm het om kos en hulle daaglikse fix te kry, is daar glo deesdae skaars genoeg vir ‘n ordentlike maaltyd. Hoewel dit deur Maré ontken word, het die paartjie gesê hulle eet gereeld by NGF, “maar die kos is partykeer bietjie sleg”.

Lees ook: Jou goedhartigheid kan gif wees

“Dit is ook soms gevries en ons kan dit nie gaarmaak nie,” het Wayne gesê.
“Ons is al vier maande ‘skoon’, maar mense sê ons nogsteeds sleg,” het hy die koerant probeer oortuig. Hulle beweer dat ‘n besoek aan Themba Hospitaal, gevolg deur een by Swartfontein-rehabilitasiesentrum naby Hazyview, hulle heeltemal van hierdie hoogsverslawende dwelm genees het.
“Ons is meer as bereid om vir bloedtoetse te gaan om te bewys dat ons skoon is,” het Cindy gesê. Brenda sê egter dat Wayne ná een van sy botsings met die gereg, gedwing is om na Swartfontein te gaan en nie lank daar gebly het nie omdat hy nie daarvan gehou het nie.

Mense sê ons is sleg witmense, en ons word elke dag geoordeel oor ‘n fout wat ons lank terug gemaak het. Hulle sê ons moet werk, maar jy kom by dieselfde ou aan om werk te soek en hy jaag jou weg.” Maré sê egter dat Wayne al talle werkaanbiedinge van die hand gewys het. Hulle slegte gewoontes het hulle al ‘n hele paar aande in die polisieselle gekos.

Cindy sê sy is ses maande swanger met Wayne se kind en dit is hoekom hulle die dwelms gelos het. “Ek het nie geweet ek is swanger nie, maar toe ek uitvind het ek dadelik die dwelms gelos,” het sy gesê.
Brenda beweer egter dat Cindy twee maande gelede teenoor haar erken het dat sy nié swanger is nie en dit voorhou om simpatie te ontlok. Maré het voorts gesê: “Die forum sal betaal vir Cindy se swangerskaptoets en alle behandeling wat met ‘n swangerskap gepaard gaan, maar sy het nog elke keer hierdie aanbod van die hand gewys.”
Cindy het glo ‘n kind uit ‘n vorige huwelik wat tans in iemand anders se sorg is. Maré het bygevoeg dat dit haar voormalige man was wat glo vir die histerektomie betaal het.
“As ons vandag werk kry, is ons van die straat af,” het hulle gesê. Hy is glo ‘n kranige sweiser en Cindy ‘n ou hand in spyseniering.
“Die lewe op straat is nie ‘n walk in the park nie. Ons is al vier keer beroof, en weer onlangs van al ons klere en komberse besteel en moet elke aand op karton slaap.”

Altwee streef na ‘n beter lewe. “Ek wil ook, soos party ouens wat hier verby ry met ‘n lekker Golfie ry met lekker musiek. Ek wil ook my eie klein huisie hê en partykeer vir Cindy sê, ‘kom my ding, kom ons gaan eet by McDonald’s, maar ek kan nie’,” het Wayne gesê.

Latest News

COMMENTS

hazyview_smallmpumalanganews_sallnelspruitpost_smallsteelburger_publication_newwhiteriver_smallbarbertonTimes_smallcorridor_smallgetitagriecoRD_smalllooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
Are you ready to vote tomorrow? Here is your quick and easy guide