Ontmoet die vrou wat “Fairy B*tch” bestuur

Annatjie en Klara agter die stuur.
Annatjie en Klara agter die stuur.

MBOMBELA – Daar is ‘n pienk karretjie in die stad wat motoriste rooi laat sien. Die bestuurder stop telkens wydsbeen oor twee parkeerplekke by winkels. Foto’s hiervan is al verskeie kere op Facebook-groepe soos Laevelders en Nelspruiters gedeel en inwoners wou weet wie dit is.

Dié Kia Picanto is windgat. Dis vrolik en spog met reuse feetjie-plakkers op die kante. Die bak adverteer dat die bestuurder ‘n getroue Bloubul-ondersteuner is en die naam “Fairy B*tch” pryk ook agterop.

Fairy bitch in lot

Hierdie week is die volgende inskrywing onder Laevelders deur Sophia de Clerq gemaak: “Hi, dis fairy b*tch. Ek wens julle wil julle kommentaar, aantygings, slegsê, ensovoorts vir julleself hou. Daar is baie beter dinge om oor te praat. Ek pla niemand en betaal vir my twee staanplekke orals waar ek stop. My kar is gedoen deur Signbird en dit is net hulle demo. Ek het baie betaal vir die stickers, mense het nie respek vir ander se voertuie nie.  Ek hoop dis die laaste keer wat iemand my sê my kar is op Facebook. Pasop wat julle sê, dit kan lei tot regstappe.” Dit het ‘n hewige debat ontketen.

Hier en daar het ‘n Facebook-gebruiker hom by Annatjie, oftewel Sophia de Clerq geskaar, maar die meeste kommentaar was verdoemend.

Laevelder se nuuskierigheid was geprikkel en met ‘n bietjie speurwerk het ons die ware Jakob opgespoor en met die bestuurder gesels. Dis eintlik Annatjie Coetsee. De Clerq is haar niggie.

‘n Interessante vrou is Annatjie gewis. Sy het duidelik ‘n obsessie met feetjies. ‘n Toer deur haar huis en tuin het gewys presies hóé gek sy oor dié fantasie-karakterjies is. Haar tuin is vol feetjiebeelde.  Die rakkies in haar huis vertoon tientalle standbeeldjies en die muur bo haar bed is vol feetjies. “En ek is mal oor pienk,” het sy bygevoeg.

 

Sy bestuur boonop altyd met haar driejarige Capuchin-apie, Klara, op haar skoot.

Sy kyk na ander motoriste deur vensters wat met blink steentjies bedek is. Die plakkers op haar kar het haar R7 000 gekos. “Ek het afslag gekry – dis R14 000 werd. Mense bestuur onverskillig en krap ‘n mens se kar, soos wanneer hulle hul deure oop- en toemaak.

“Ek het reeds my flikkerlig deur ander se onverskilligheid verloor. Dit het my R250 gekos om te herstel. Ek parkeer soos wat ek parkeer om soortgelyke voorvalle te vermy.”

Sy het vertel dat die kommentaar op Facebook haar eintlik min skeel. “Die mense wat my aanlyn slegsê, pla my nie,” het sy gesê en met haar hand in die lug gewaai om te wys hoe min dit haar raak. “Dit ontstel wel my kinders – 25 en 28 – geweldig.”

Annatjie het vriendelik geglimlag en verduidelik dat dit haar twee seuns was wat haar “die b*tch” gedoop het na aanleiding daarvan dat sy ‘n kwaaier ouer as haar man was. Sy was altyd die een wat slae uitgedeel en die reëls neergelê het.

“Tugtig die een wat jy liefhet,” het sy opgemerk – dissipline is vir haar belangrik. “Ek wil dit deurtrek na die huidige gesprek toe. Ek sal nooit oor twee parkeerplekke stop waar die wet dit verbied nie. In die CBD, byvoorbeeld, is dit onwettig. Maar die parkeerterreine van plekke soos Crossing, The Grove, Riverside en I’langa is privaat eiendom.

“Ek weet van geen regulasie wat my verbied om so te stop nie.” In reaksie op die stelling dat dit dalk goeie maniere sou wees om tussen die lyne te stop, het sy gesê: “Dit sou goeie maniere gewees het vir die ou wat my flikkerlig afgery het, om dit nie te doen nie. Dis goeie maniere om nie die ou langs jou se kar te krap nie. Maar mense doen dit. As ek myself kan beskerm, gaan ek.” Twee ander vroue het Laevelder geskakel en hul simpatie jeens Annatjie uitgespreek – een is ‘n ma en sê dat sy net soos Annatjie voel.

“Met drie kinders in my kar, kan ek nie nog sit en kyk of ander my eiendom respekteer nie. As ek op ‘n sekere manier moet stop om dit te waarborg, sal ek dit doen.”
Annatjie sê sy het nie ‘n probleem daarmee dat ander haar op haar oënskynlike fout wys nie, maar dat daar ‘n regte manier is om ‘n ding te doen. “Daar is onder-die-belt kommentaar oor my gelewer. Dit was onaanvaarbaar.”

Sy het besluit om nie op die aanhoudende negatiewe aanmerkings wat mense oor haar maak, te reageer nie, maar eerder vriendelik te wees met elkeen wat oor haar pad kom.
Annatjie het wel haar prokureur, mnr. Koen Koekemoer, geraadpleeg en “sal regstappe neem teen diegene wat haar beswadder of die wet tot haar nadeel oortree”.

Annatjie se huis is volg feetjie beeldjies, met liggies hier en daar:

  AUTHOR
Helene Eloff
Court Reporter

Latest News

COMMENTS

hazyview_smallmpumalanganews_sallnelspruitpost_smallsteelburger_publication_newwhiteriver_smallbarbertonTimes_smallcorridor_smallgetitagriecoRD_smalllooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
The driver of the BMW was killed instantly.
Two killed in KaMagugu and Schoemanskloof accidents