Liesbet van die Laeveld: Toe ‘n grys apie die snelbelknoppie op my foon gevind het …

SHINGWEDZI – Toe die grysapie met my selfoon in die Shingwedzi-kamp in die Nasionale Krugerwildtuin afsit, was my eerste skietgebedjie dat die foon tog nie soos altyd op die snelbelknoppie na Patricia de Lille toe moet val nie.

Die enkele onbewaakte oomblik op die stoeptafel het al my voorsorg teen die grys troppie met die gryperige vingers ongedaan gemaak. En nou het ek moeilikheid, van die aapstreke-soort.

Dit was een van die lewe se voortslepende raaisels hoe my selfoon ‘n lewe van sy eie kry in my handsak as ek dit ewe nonchalant oor my skouer gooi en dan as gevolg van ‘n bonsie hier en ‘n bonsie daar op my ruim heupe die oorsensitiewe snelbelknoppies deur ‘n lipstiffie of naelvyl bygekom word.

‘n Oproep by verstek kan jy maar sê. Bel-by-default. . . Vriendinne is al gewoon aan my handsakoproepe en sal met ‘n geskree soos die oerknal vanuit die dieptes op my handsak my aandag probeer trek denkende aan my skrapse selfoongeldjies. Nogals snaaks in supermarkrye as mense met bevrore hoenders in hul hande wilde gebare na jou handsak maak.

Maar arme Patricia de Lille weet nou ongelukkig van my giere en geite en my selfoon se nukke nie al het sy nou al ‘n paar handsakoproepe van my gekry. Wat gaan die arme stylvolle vrou egter nou dink as sy die luide geroep van die hadidas en die skrille gelag van ‘n hiëna hoor as my nommer (weer eens) op haar skermpie verskyn? Dit kan dalk net haar politieke nerwe ‘n rapsie dunner maak.

Ek skree toe maar op die grys apie in allerhande ou Vrystaatse knalwoorde waarvoor my oumagrootjie haar sou skaam. En terwyl ek my kantoorfloue bene lig en oor die impalalelies seil soos LJ van Zyl wat sy kleim afsteek op ‘n Olimpiese medalje of twee, oorweeg ek selfs om moontlik my skoene uit te trek en in aap-se-kind se algemene rigting met ‘n swart Puma te laat lostrek.

Dis toe nou net my groen gewete wat my keer.

Erger, dink ek toe so in die hardloop, sê nou dit val op die snelbelknoppie vir Kurt Darren en hy dink dalk dis ‘n gespot met sy veelbesproke Kaptein-liedjie as die agtergondgeluide nou nie die van seemeeue in die verte is nie, maar iemand skree op ‘n hoë toon midde-in ‘n hadida-gekerm?

Ek sien al hoe word ek gestraf met aande van langarm op die maat van Meisie-Meisie tot ‘n eindelose sokkiejol. My eie Verlangebaan na stilte . . .

Want sien ‘n joernalis se foon is eintlik ‘n opname van ‘n lewe in die vinnige baan saam met mense wat jy andersins nooit sou ontmoet nie en vlugtig mee skouers skuur. Jy hou die nommers vir die wis en die onwis.

En vir wanneer die beroemdes en onbekendes dalk presteer of skandes maak en ‘n redakteur verwag jy moet binne twee minute kommentaar om middernag kry terwyl iemand duskant die Noordpool op ‘n skeepsreis in afsondering verkeer met ‘n selfoon op internasionale swewing.

So jou kontaklys op jou foon lees nogals soos ‘n Readers’ Digest gekondenseerde portfolio van al jou artikels. As jy soos ek twintig jaar lank vir vrouetydskrifte gewerk het is daar ‘n sonderlinge versameling van sjefs, ontwerpers, grimeerkunstenaars en Sewende Laan aktrises gemeng met seksuoloë (vir verhoudingsartikels!) op jou kontaklys.

Gooi daarby my meer onlangse loopbaan as ‘n nuusjunkie in en dis ‘n allegaartjie met ‘n paar skurke ingegooi vir ‘n brandsmakie asook diegene wat hulle moet vastrek.

Juis met die gedagte rek ek skielik my treë want so het my foon ook die nuk om die mees onlangse nommer te bel. En dit was vandag ‘n oproep na ‘n streng brigadier gemoeid met renosterstroping. Nie iemand met ‘n gesonde sin vir humor nie.

Ek sien die klein Kesie is nou op spoed en het netjies die foon onder sy deodorantlose armoksel ingeskuif terwyl hy agter ‘n bos in verdwyn.

Net daar stop hy in sy eie spore so vinnig dat ek amper hik van die skrik. Die grillerige rubberpootjie grou onder sy armhare in. Hy ruk daai foon uit en gooi dit die vertes in sodat dit so onder die mopaniebome deurseil na die Shingwedzirivier se kant toe. Sekerlik met ‘n ‘klankie’.

Hoogs ontsteld soos ‘n tante wat swaar in die gesig gevat is, sukkel hy met ‘n verwytende kyk na my kant oor na waar die res van sy trop vergader rondom ‘n asblik. Asof daar veiligheid in nommers is.

Ek hoor alte duidelik my luitoon uit die verte uit,‘n Afrikaanse treffer wat ek spottenderwys in ‘n ligte oomblik afgelaai het om op kind en kraai se nerwe te werk.

Skielik is ek baie dankbaar vir die goue nagtegaal uit Namibië se soet poptertjie klanke.

Want toe Skarumba opklink, toe sing Juanita du Plessis ‘n aap uit ‘n bos hier in Shingwedzi.

Toe ek die foon uit die rooi sand van die riverloop optel is dit gelukkig glad nie Patricia de Lille met ‘n verkiesingsboodskap aan die ander kant nie. Bloot my jongste spruit.

Nog nooit het “Hello Mamma!” so mooi geklink nie . . .

  AUTHOR
Elize Parker
Environmental Journalist Lowvelder

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

hazyview_smallmpumalanganews_sallnelspruitpost_smallsteelburger_publication_newwhiteriver_smallbarbertonTimes_smallcorridor_smallgetitagriecoRD_smalllooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
Reader’s letter: An open letter to our president, Zuma