Brief van ‘n leser: Oplossing vir verkeer

My vrou moet daagliks vanaf Steiltes na haar werk in Riverside ry, en aangesien die mees logiese pad deur Valencia en dan die KaNyamazane-pad is, word dié roete deur Valencia erg oorgebruik. Boonop word die pad gereeld opgekap vir die lê van pype en kabels. Dit maak die padoppervlak uiters swak en beskadig ons motors se vering en buitebande, wat dan nie spoedig herstel word nie.

Die situasie vererger vinnig na reën en motors verrinneweer dus ook spoediger met die padoppervlak wat net nie kan bybly nie. Ek kry ook nie ‘n logiese plek aanlyn om mooi te vra of die padoppervlak nie dringender reggemaak kan word nie. Die meeste, of ‘n groot getal van diè kortpadgebruikers, kom afdraand af vanaf Dr Enos Mabuzrylaan en draai links op die N4 na Valencia, of stop by die verkeerslig om regs te draai na Malalane. As dit daar in ‘n vierrigtingkruising verander kan word en ‘n mens oor die Malalanepad kon ry om aan te sluit by die Dr Enos Mabuza-verlenging in Valencia, sal motoriste die regsdraai-verkeersligte en die enkel-onderbruggiepad in Valencia totaal kon uitsny en beter vloeiende verkeer bewerkstellig.

Al wat dit sal kos, is ‘n paar ton rommel as basis vir ‘n baie kort stukkie aansluitingspad en ‘n teerlaag bo-op. Baie probleme sal dan in ‘n kits opgelos word. Die sleutelwoord deesdae is “vleiland”, maar daar staan reeds vir geruime jare huise sonder enige nagevolge.

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
The rising sap