Orgideedokter deel sy wengeheime

MBOMBELA – Lourens Grobler is een van Suid-Afrika se voorste orgideekwekers en het al met menige pryse by orgideeskoue wêreldwyd weggestap.

Soms soek Grobler en sy gesin tydens ‘n uitstappie saam met die Laeveld se Orgideeklub na seldsame orgideë soos die Disa staerkeriana, wat op die kruine van die skouspelagtige berge van die Longtompas groei.

Mireille Grobler op die kruine van die Longtompas.

Maar meesal is hy en sy vrou Jolisa se orgidee-bedrywighede gesentreer rondom die kweekhuise op Alkmaar om in die rustige omgewing tussen die berge meer as 4000 orgideë te versorg.

Die Groblers begin hul dag deur vroegoggend in die kweekhuise weg te spring met die versorgingsprogram. Die werk en take moet in die oggend afgehandel wees sodat die orgideë in die aand droog kan wees om swaminfeksies te verhoed.

Disphersis cardiophora

“Na ons die plante natgegooi het, sal ons gewoonlik begin oorplantings doen, swam- en plaagbeheer toepas. Ander takies is om dooie plantemateriaal te verwyder, bestellings te pak en te pos, kunsmis te gee en natuurlik om hulle te geniet ook,” sê die rekenmeester wat ook ‘n puik fotograaf van sy geliefde plante is.

Lourens Grobler spreek orgideeliefhebbers toe tydens ‘n besoek van ‘n tuinklub.

Jolisa en Lourens deel hul vernuf in hulle pragboek Field Guide to the Orchids of Northern South Africa and Swaziland (R280, uitgegee deur Umdaus Press, 012-991-2988).

In die aande werk hulle aan hul webwerf www.afriorchids.co.za en antwoord eposse wat wêreldwyd  instroom om raad te kry.

Die kweekhuis met meer as 4000 plante is die hartklop van vele versamelaars se plantversameling en die materiaal word wêreldwyd versend.

Grobler is eerlik en nugter oor die belangrikste eienskap wat ‘n orgideekweker moet hê.

“Geduld! Die meeste orgidee groei maar stadig en blom net een keer per jaar. Die meeste nuwelinge in orgideewêreld het nie die geduld om tot drie tot vier jaar te wag voor hulle blomme sien op ‘n klein saailing wat hulle aangekoop het nie.”

Duidelik het Grobler sulke geduld want die kweekhuise by Afriorchids is ‘n paradys van kleur en geur. Dis reeds sedert die laat sewentigerjare wat die gesin onder die leiding van sy pa, Christo, weggespring het met ‘n geskenkorgidee om die sonderlinge plantboerdery te vestig in die Laeveld.

LEES meer oor Grobler se wenke vir pryswen-orgideë

Frank Webb met die Groblers se boek oor orgideë in Suid-Afrika.

“As ‘n algemene reël sal jy enige plek op aarde waar daar groen plante is ook orgideeë kry. Dit beteken dat dit baie belangrik is om navorsing te doen oor die tipe orgidee wat jy het. Deesdae is dit baie makliker met die internet as tevore,” sê Grobler.

Hy deel maklik sy wengeheime. “Die belangrikste reël wat ons al geleer is om nie jou groeiwyse te verander net omdat iemand anders sê jy moet nie. As jou orgidee goed groei, moenie die plant onnodig steur nie. Met ervaring sal jy ook vinnig sien wat jou plant kort of wat fout is.”

In die kweekhuise en met die blomboerdery probeer die Groblers alles so eenvoudig moontlik te maak aangesien dit nie hul voltydse werk is nie.

Die meeste van die plante is onder skadunet, tussen 30% to 80% skadu.

“Ons groei ook die meeste op “slabs” of hout, wat die maklikste manier is in die Laeveld, veral met ons hoë lugvog. Vir die meer tropiese soorte het ons ‘n klimaatbeheerde kweekhuis wat verhit en verkoel word. Daar is egter meer as genoeg soorte om te groei wat nie sulke omstandighede nodig het nie.”

As orgideedokter het Grobler hom ook reeds onderskei.

“As jy weet wat die siekte is, moet jy die nodige gifstof koop en die instruksies volg. Daar is heelwat boererate ook wat vir baie van die siektes help. Elke kweker het sy eie voorkeure en geheime. Die beste is egter om voorkomend op te tree.”

Stap jy deur die tuin op Alkmaar waar die lug vars ruik en ‘n ligte wind deurtrek, sien jy gou hoe gelukkig die mees eksotiese orgideë sommer in die mik van ‘n boom groei.

Oncidium sphacelatum

“Goeie lugbeweging in die groei-area sal al baie probleme voorkom. Die plante moet ook gereeld ondersoek word vir peste soos dopluise, slakke en plantluise,” doen Grobler aan die hand.

Hy is ook gekonfyt in die kuns oor hoe om orgideë voort te plant.

“Vir die meeste orgideeliefhebbers sal verdeling die beste wees. Dit beteken dat jy die plant in kleiner plante sal verdeel in die lente. Dan kan jy ook die plant bestuif en die saad na ‘n goeie laboratorium stuur om te ontkiem en verder te groei,” verduidelik hy.

Op hierdie manier kan jy letterlik duisende plante kweek. Dit neem egter as vier tot vyf jaar voor jy blomme sal sien.

Sy aanbeveling vir drie beste orgideë vir ‘n tuin is Oncidium sphacelatum, Laelia anceps en Dendrobium nobile.

Dendrobium nobile cooksonianum

 

  • Loer gerus hierdie Saterdag in by Afriorchids waar die Groblers se orgideë en ander kosbare plante te koop sal wees. Aanwysings na Afri Orchids: Ry op die N4 tot by die afdraai na links na Kwanyoni Lodge. Neem die grondpad parallel met die hoofpad en ry verby die lodge tot by die vurk in die pad. Neem linkerkant van die vurk en ry tot by die ingangshek. Neem die derde pad na regs (R3 gemerk). Skakel Jolisa by 079-492-9385.
  AUTHOR
Elize Parker
Environmental Journalist Lowvelder

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

hazyview_smallmpumalanganews_sallnelspruitpost_smallsteelburger_publication_newwhiteriver_smallbarbertonTimes_smallcorridor_smallgetitagriecoRD_smalllooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
Lydies hosts Stars in Spikes