Giano dos Santos in sewende hemel

Giano dos Santos.

Die provinsie het hul beste prestasie nóg by die kampioenskappe opgelewer en ‘n algehele derde plek verower.

Giano, ‘n produk van Hoërskool Nelspruit, het sewe medaljes in Polokwane losgeswem.

“Ons het baie goed gevaar en ek is gelukkig met die uitkoms. Dit was ‘n lang en harde seisoen. Die swemmers het ver gevorder en na elke seisoen is ons ‘n stappie nader om eersdaags ‘n Olimpiese-gehalteswemmer op te lewer,” het afrigter van NSA, Gideon du Toit gesê.

Al is Giano nou maar eers 14 jaar oud, het hy die afgelope naweek gewys waarom hy Suid-Afrika se beste 100m-rugslagswemmer is.

Lees ook: Six from NSA qualify for nationals

Hy het ‘n goue medalje in die 100m-rugslag vir seuns 14 tot 15 jaar en sy tweede goue in die 200m- wisselslag met ‘n nuwe persoonlike beste tyd van twee minute en 19,06sek losgeswem.

Sy derde eerste plek was in die 50m-rugslag met ‘n blitsvinnige tyd van 29,89sek.

‘n Silwermedalje in die 200m-rugslag het hom van goud in al vier sy individuele items weerhou, maar hy het saam met sy Mpumalanga-spanmaats ‘n verdere drie bronsmedaljes in die aflositems verower.

Uniswim se Brooklyn Croxon het haar staal vir dogters o/13 gewys met drie goue medaljes in die 100m-borsslag, 100m-vryslag en 50m-vryslag.

Brooklyn Croxon.

Jordyn Minifie, ook van Uniswim Nelspruit, het haar eie swemgrense verskuif toe sy goue medaljes in die 200m-borsslag en 400m-vryslag vir dogters 16 tot 17 jaar verower het.

Lees ook: Local swimmers shine at KZN championships

Sy het ‘n verdere tweede plek in die 200m-individuele wisselslag behaal en ‘n brons in die 4×400-vryslagitem.

“Van die swemmers het drie kompetisies na mekaar gehad en om dan in die laaste kompetisie te presteer, is ‘n besonderse prestasie,” het afrigter van Uniswim Jasper Venter gesê.

In die S14-intellektuele gestremde klas, het Shane le Roux van Estralita-swemklub van Lydenburg die provinsie se naam hooggehou nadat hy goud in die 100m-borsslag en 50m-rugslag teruggebring het Laeveld toe.

Jordyn Minifie.

  AUTHOR
Carli Koch
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Brooklyn dalk eersdaags op pad oorsee