VIDEO: Hartseer boer wys hoe droogte vee op hope laat vrek

CALVINIA – Die veeboer-gemeenskap van Calvinia, Brandvlei, Sutherland en Williston is op hul knieë. Die afgelope paar jaar se droogte het meeste boere in dié kontrei nou finaal geknak en hul kan finansieel nie meer voer vir hul vee bekostig nie.

Adriaan van Wyk (34) is ‘n derdegeslag boer op hul plaas en het gister gesê hulle staan met die hoed in die hand voor Suid-Afrika se mense. “Meeste boere hier het al hul meubels en persoonlike goed alles verkoop en voer nou ‘n hand-tot-mond bestaan. Ons diere vrek op strepe want ons het nie geld om vir hulle kos te gee nie”.

Daar is geen weiding vir vee oor nie en slegs hulp van buite kan boere nou help

In ‘n selfoon-video wys Adriaan, pa van drie dogtertjies, presies hoé erg dinge geraak het terwyl hy op sy plaas loop en die een dooie bees op die ander afneem. “Dís hoe dit lyk by ons op die plaas. Jissie mense, dit maak seer hierdie, dit maak baie seer”, sê Adriaan in ‘n emosionele stem terwyl hy sy dooie vee een na die ander tel en op 15 stop. “Sê julle vir my, hoe kan ek ophou voer soek as dit só lyk. Asseblief mense, enige enige hulp sal waardeer word” pleit hy.

Adriaan sê dat hulle nou totaal op die hulp van buite aangewese is. “Elke sent sal help, maak nie saak hoe klein die bydrae is nie.”

In ‘n ander roerende selfoonvideo pleit ‘n boervrou van die omgewing vir hulp. “Ons voersloot is leeg. Ons skape het nie kos nie. Ons het reeds voerlenings aangegaan en die bank kan ons nie meer help nie.”

Intussen is ‘n hulpfonds gestig wat deur Pikkie Labuschagne en Anita du Preez bestuur word. Anita vertel dat hulle wel heelwat voerskenkings ontvang het maar dat hulle nie die nodige vervoer kan betaal om dit by die plase uit te kry nie. “Ons het daardie fondse nodig om vragmotors te huur sodat ons dit tot in Calvinia kan kry.

Die lammertjies oorleef nie die droogte nie.

Ek het ‘n vrag voer uit Delmas maar ons kan niks daarmee maak as dit nie vervoer kan word nie”. Intussen het ‘n swendelaar reeds met een vrag voer waarwoor betaal is, spoorloos verdwyn. Sy sê dat hulle nou nog meer versigtig moet wees om te sorg dat hulle nie uitgebuit word nie.

“Ons het boere wat ons help wat letterlik byna niks oor het nie. Dis veral die ouer boere wat hul trots moet opsy stoot wat swaar kry. Hulle verval in depressie oor die situasie. Ons wil nie sien hoe daar nog tragedies ook plaasvind nie”, het Anita gesê.

Die boereverenigings in die distrik doen wat hulle kan, maar die nood druk reeds so dat buitehulp al redding is.

Bydraes kan inbetaal word by rekeningnaam: Calvinia Farms, Absa, rekeningnommer: 9329287508, takkode 632005.

  AUTHOR
Irma Green
Group Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
VIDEO: Biker gang causes havoc in Mbombela