Laevelders in ‘n Theuns-beswyming toe hy in Mbombela optree

Theuns Jordaan.

MBOMBELA – Daar is iets aan Theuns Jordaan wat mense laat ontspan. Sy diep stem, sy lekker sin vir humor en sy veelsydigheid het gesorg vir ‘n Emnotweni Arena wat Vrydagaand só vol was, dat party in die gehoor sommer gestaan en luister het. Wanneer Theuns ons stad besoek, maak honderde aanhangers gereed vir ‘n groot partytjie.

Hy het die gehoor van die eerste noot af bekoor. “Kouevuur”, “Namibsroos” en “Hanne” het die aand rustig ingelei en hy het die massas in die palm van sy hand gehad. “Nou goed. Dis nou dit met die rustige musiek,” het hy aangekondig en kitaarspeler Anton L’Amour het by hom op die verhoog aangesluit.

Countrynommertjies het die litte lekker losgemaak. ‘n Vinnige drankie-pouse het gevolg. “Nee kyk manne, as die behoefte roep, dan moet jy jou glas gaan volmaak, ek verstaan!” het hy gespot. Die vertoning het hervat en Theuns het so ‘n bietjie rugby gesels voordat sy weergawes van “Walk the Line”, “Sweet Caroline” en “The Gambler” bewys het waarom sy CD, Tribute to the Poets, dubbelplatinumstatus bereik het deurdat meer as 110 000 eksemplare daarvan verkoop is.

Toe hy sy mondfluitjie optel en met “Beautiful in Beaufort-Wes” lostrek, was die gehoor in ‘n Theuns-beswyming. “Kom julle, klap saam!” het hy genooi en geeneen in die gehoor het op hom laat wag toe “Dis Julle wat die Wind”, “Spook van Uniondale” en “Blommetjie Gedenk aan My” aan die beurt gekom het nie. “Anna, jy’s my blom wat van die Laeveld af kom!” het ‘n gejuig laat losbars voordat Theuns se diep stem nuwe dimensie aan U2 se “I Still Haven’t Found What I’m Looking For”, gegee het. “Soos Bloed” het die aand afgesluit. Die gehoor het spontaan opgestaan, gedans en saamgesing voordat Theuns vir ‘n laaste keer met groot entoesiasme toegejuig is.

 

  AUTHOR
Helene Eloff
Legal Adviser & Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Rocco’s Xmas Piano a truly joyous occasion