Bergvlam se matriekafskeid ‘n spesiale aand van glans

Abigail French en Steve Engelbrecht.

MBOMBELA – Hoërskool Bergvlam se matriekafskeid het leerlinge Saterdagaand na ‘n geheime bestemming weggevoer. Laevelder was daar toe die groep opgewonde gaste een vir een hul opwagting by die skool gemaak het. Hulle is hiervandaan met Citybug-busse na ‘n ander terrein vervoer.

Hierdie manier van doen verleen aan die matriekafskeid iets besonders. Nadat skoolmaats en die publiek ‘n kans gekry het om elke opwagting in al sy glorie mee te maak en deftige uitrustings te bewonder, was dit tyd vir ‘n spesiale oomblik.

Elke leerling kon twee gaste saamnooi na ‘n intieme funksie wat die aand se verrigtinge voorafgegaan het. Die matrikulant en sy/haar twee gaste kon aan klein hamburgers, mini-quiches, nagereghappies en poffertjies weglê. Mocktails is ook bedien.

Nadat die matrikulante ‘n gedeelte van die aand saam met hul gaste kon deurbring, was daar nog tyd vir foto’s neem vir die familie-album. Laevelder het met een van die leerders, Suneika Hodgkinson, gesels. “Ons is baie opgewonde,” het sy vertel. “Die amptelike matriekafskeid word iewers anders gehou, maar dis vir ons ‘n verrassing.” Sy het vertel dat hierdie vir haar ‘n opwindende tydperk is. “Ons maak uiteindelik klaar met skool. Dis hartseer, maar ek sien uit na die grootmenswêreld. Dit gaan ‘n ervaring wees. Ek gaan baie leer – ook sekerlik uit my foute.”

Sesuur het aangebreek en die jongmanne en -vroue het in Citybug se busse na een van die geleenthede vertrek wat ‘n mens lewenslank onthou. Me. Rista Coetzee, woordvoerder vir die skool, het verklap dat ‘n kleurvolle aand met die tema Le Carnavale de Bergvlam by Kavinga, ‘n luukse venue buite die stad op hulle gewag het.

 

  AUTHOR
Helene Eloff
Court Reporter

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
VIDEO: Rhino charges car in KNP