Kunstenaars verras met musiek uit boonste rakke

Robbie Wessels. Foto: Pixel Perfect.

MBOMBELA – Ek is, as ‘n reël, nie die grootste aanhanger van Afrikaanse popmusiek nie. Mooi manne wat oor hul gebroke harte sing? Nee wat, dankie, gee my eerder die plaaslike Space Cadets.

Saterdagaand by Emnotweni was egter ietwat van ‘n openbaring toe drie gewilde, maar uiteenlopende musikante daarin geslaag het om te vermaak en by tye te boei. Robbie Wessels, Dewald Wasserfall en Ricus Nel het kragte saamgespan vir ‘n vermaaklike aandjie uit.

Vertoonkunstenaars sing oor hulle hartsake, die hoop, verlange, pyn, maar waar hulle oor hul eie lewens liedjies skryf, soos regtige wêreldbesoekers, is dit diwels soveel meer treffend. Verrigtinge het wel ‘n bietjie laat afgeskop, maar die geduldige gehoor is later tevrede huis toe.

Nel was eerste aan die beurt. Meer bekend as ‘n jack-of-all-trades-musikant, het hy sy halfuur op die verhoog goed benut om die omvang van sy vele talente te illustreer.

Hy ís snaaks, sjarmant, en geséls met sy gehoor.

Hy skerts dat hy na jare in die agtergrond as ondersteunende musikant, “persoonlikheid” moes kry as ‘n solokunsternaar .

Hy het met die country-musiek van Don Williams, boeremusiek (“Hartbeesfontein”), Afrikaanse hartsmusiek (“Sak en pak” beter bekend as “Padkaart na jou hart”) en instrumentale nommers (“Resano Garcia”) sy mondfluitjie, banjo, konsertina en indrukwekkende kiraatsolo’s onder luidkeelse aanmoediging ten toon gestel.

Wasserfall het weggetrek met die gewilde, “Vergeet wat jy weet van liefde”, sy weergawe van “Suikerbossie” en “So eensaam soos die son”. Mense het uit hulle harte saamgesing, ander het dié lied as “rêrige musiek” geëien en die gehoor se applous het dit beaam.

Sy rokerige, heserige stem is ideaal vir dié tipe sielvolle, hartvolle vertolkings soos ook met “Op sewentien” en “Ek en jy”, en saam met sy kitaarspeler Danny Smoke se inlewing dink ‘n mens: “Hierdie man kort ‘n stadion”.

Wessels se gewildheid is immergroen. Dit kan toegeskryf word aan sy beeld as ‘n gewone mens wat boonop pret is, en sy vermoë om iets te stel soos dit is. Wie het nog nooit gedink: “Is daar iets tussen ons? Is daar iets, of net niks?”

Hy het sy rowwighede (“De Vos” en “Gym of all nations”) afgewissel met die filosifiese (“Halley se komeet”) en liefderike (“Iets bekends”).

Dis nie maklik om ‘n rondreisende kunstenaar te wees nie. Die manne is oor die algemeen aangewese op vooraf opgeneemde agtergrondmusiek omdat hulle dit nie kan bekostig om met volle orkeste te toer nie. Maar hulle sing regtig hulle eie woorde.

“Ek moet so nou en dan die woorde ‘vergeet’, anders dink mense ek mime,” het Wasserfal wrang opgemerk.

Is dit die moeite werd om hierdie musikante, wie se huise hierdie lang pad (soos Wasserfal in “Kerk van Teer” sing) is, te ondersteun? Hulle ondersteuners Saterdag by Emnotweni, en ek, dink so.

  AUTHOR
Mireille de Villiers
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
BREAKING NEWS : Second CIT heist this week