Skole van die Laeveld bars uit hul nate

Die sogenaamde na-oorlogse “baby boom” van die jare vyftig en sestig het ook hier in die Laeveld sy neerslag gevind.

Op 7 Februarie aan die begin van die skooljaar van 1963 – dis ook al goed meer as ‘n halfeeu gelede – skryf Die Laevelder hoe die groei van die Laeveld gesien kan word in die toename van die leerlinge en leerkragte by plaaslike skole.

1969.10.24LV03_11988 (Medium)

Die koms van die die Lowveld High was groot nuus in die Laeveld in 1969. Hierdie was ‘n advertensie in Die Laevelder van die uitrusters waar nuwe leerders destyds die nuwe skoolklere kon koop.

Die Nelspruitse laerskool – toe nog die enigste in die dorp en die grootste laerskool in die land – het die skooljaar geopen met 1 204 kinders en niks minder as ‘n personeel van 37 leerkragte.

Die Nelspruitse hoërskool, soos dit toe nog as die enigste hoërskool in die dorp bekend gestaan het, het 800 leerlinge gehad. Die koerantberig lui dat die getal Engelssprekende leerlinge geleidelik aan die groei was.

Vroeër jare was die gewoonte onder die Engelssprekendes van die Laeveld om die meisies na die Loretta Convent op Lydenburg te stuur en die seuns na skole in Johannesburg of Boys High in Pretoria.

In 1853 is daar ‘n Engelse afdeling by die skool begin en die vorige jaar was daar nege wat die matriekeksamen in Engels afgelê het.

In Witrivier was daar 652 in die laerskool met 192 wat Engelssprekend was. Daar moes vier nuwe onderwysers bykom. Hoërskool Rob Ferreira het in 1963, 514 kinders ingeskryf.

Die Graskopskool het omrede die sluiting van die nabygeleë Blydeskool by die Blyde-bosboustasie, gegroei tot 142 leerlinge met ‘n nuwe onderwyseres, me. HE de Klerk wat daardie jaar bygekom het. Die eerste skoolbus tussen Blyde en Graskop was ook ‘n nuwigheid.

By Barbertonse laerskool is 645 leerlinge ingeskryf en die skool het nege nuwe leerkragte verwelkom. By die hoërskool op Barberton was daar daardie jaar 450 kinders.

Op Sabie het die skool ook lekker uitgebrei, berig Die Laevelder. Daar was nou 23 leerkragte vir die 621 kinders. Dit is onseker of dit toe nog ‘n gesamentlike hoër- en laerskool was nie. Moontlik kan van ons lesers hier help.

JJJBISCHOFFNSPTSKOOL_11860 (Medium)

Mnr. DJJ Bischoff, vader van die opvoedkunde in die Laeveld. Hy was die eerste skoolhoof vanaf 1922 tot 1946 in Nelspruit.

Amper sewe jaar later in Oktober 1969 kondig Die Laevelder dan aan dat dinge fluks vorder met die bou van die Engelse hoërskool, wat die volgende jaar sou open. Daar moes nog besluit word oor ‘n naam maar ‘n advertensie van ‘n plaaslike klerewinkel lui dat daar al skoolklere vir die dogters beskikbaar is.

Die berig lui dat dit in die winkel se vertoonvenster te sien is. In daardie stadium was die koshuis vir die volgende jaar reeds volbespreek. Navrae: [email protected]

  AUTHOR
Marius Bakkes

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
New event introduced to cater for Mbombela’s cultural community