Liesbet van die Laeveld: Die dag toe ek ‘n vlakvark se rug wou krap. . .

Die dag toe ek my eie wapen van massavernietiging moes gebruik het . . .

MALELANE – Nou is dit so dat ek nie juis een vir sonbrille is nie. Ek kyk liewers net ‘n barshou en kry klaar.

Maar na so ‘n onderonsie hier in die dieptes van die Laeveld is ek pure Victoria Beckham tussen die renosters. Of dit nou dag of nag is gaan ek soos ‘n beroemde of bekende rond wat nie herken wil word nie. Dis nou uit nood en voorsorg.

‘n Laeveld Kardashian, fashionista in die Bos.

Dit begin toe ek in ‘n ydel oomblik spieëltjie-spieëltjie aan die wand speel en die antwoord is nou nie juis vleiend nie.

Mens werk nie amper twintig jaar vir vrouetydskrifte en besef nie dat die son sy spore diep op jou gesig los as jy nie plooiroom kwistig aanwend nie. Ek besef ek begin lyk hier in die Laeveldson soos Google Earth op ‘n besige dag.

So raap ek toe die ou geskenkte sonbril nader wat effe te groot is om nou modieus te wees, maar wat nog op die neuse van sterre soos Nicole Ritchie en sulke los silwerskermtertjies te siene is.

Diesulkes doen dit ook om ‘n babelas of twee of ander nare los gewoontetjies weg te steek. Min kon ek raai hoe oortyd die engele gewerk toe ek ‘n ou geskenkte Gucci-sonbril op my neus begin balanseer het. Baie girlie. Dis nogals of ek vele sulke oomblikke hier het.

Dis nou alles so teen die plooie. My eie en dié van pienkpens kalant van die GGV (Gevaarlike Groot Vyf ) wat ek raakgeloop het tydens een van my pogings om ‘n ware Laevelder te word.

Ek is mos nou aangesê dat ek net ‘n ware Laevelder sal wees die dag wat ek ‘n vlakvark se rug gekrap het.

Laeveld-cred. Dis wat ek toe soek.

Omdat ek toe strewe om my Kapenaarskap soos ‘n ou slangvel af te gooi, is ek toe nou die dieptes van ‘n konsessie in waar die vlakvarke volgens my vriende Tom en Andriesa Tesnar nogal vrek oor ‘n wortel of twee en jy die wipsterte kan naderlok om nou die rugkielie-ding te doen.

Vir eers net sonder ‘n gehoor. Want dingetjies gebeur mos maar soms as ek toetse doen en eksperimenteer.

Never a dull moment het my vriende gesê toe die kombuis amper afgebrand het, die tien meter muur omgeval het en die geyser van die dak afgegly het en amper die bokserhond getref het. Siestog, die arme versekering. Hulle aandele het sommer gestyg toe ek nie meer kon eis na die waterpype twee keer gebars het nie. Maar dis stories vir ‘n ander dag.

In die veld skop jou instinkte mos in. Dit was so al asof daar iets naamloos die dag in die lug was . . .

Soveelso dat ek my ‘n ander dag herinner toe die Kaapse kobra om my been gekrul het tydens ‘n fynboswandeling en die Staffie hom afgeruk het. Die kalant seil oop en toe verder die bewaringgebied onder die Tygerberg in, brak geesdriftig agterna. Staffies is mos die superhelde van brawe brakke. Dit was kort nadat ek op ‘n ander dag die binnebraai oopgemaak het en die geelkleurige kalant bakkop daar vir my gestaan en wag het.Ek was dus ietwat lugtig, het nie paniekerig geraak nie en net my hond agterna gesit. Vrouhaftig kan jy maar sê.

In die Kaap leer jy mos ‘n kind om twee keer op die grond te spring voor hy ‘n bal uit ‘n bos haal net vir ingeval daar ‘n geniepsige rietslang skuil of so.

Toe ek dus op my soektog na vlakvarke in ‘n olyfbruin spoegkobra vasloop, spring ek toe sommer gou op en af soos Eben Etsebeth as die All Blacks hoog ingooi. Adrenaliengedrewe.

Maar kyk hierdie is nie ‘n slang wat vir beweging padgee nie. Daar is toe ook ‘n sekere soort windtie-houding wat hy het wat my so laat dink hy skrik vir niks nie. Nog minder ‘n stadsjapie op soek na ‘n vlakvark en gewapen met ‘n wortel nie.

Dis toe dat ek maar die slang met die vlakvarke se Woolies-wortels gooi.

Miskien het ek gedink aan die dag toe my ma haar haai polvaais uitgetrek het en ‘n sakkeroller daarmee raak gegooi het sodat hy haar handsak terstond laat los het.

As mens in die nood is, het jy mos ook ‘n helder oomblik wat jy onnodige detail inneem. Asof ek navorsing doen vir ‘n boek sien ek toe nogals hoe netjies sy skubbetjies omlyn is. Hy lig nie sy kop op nie, maar draai dit in stadige aksie in my rigting en ruk dit net so effens agtertoe.

Uit sy oopgesperde bek egter vlieg daar soos ‘n geprogrammeerde missiel ‘n straaltjie blinkigheid uit wat so skitter in die son.

My reaksietyd is die van iemand wat net vinnig beweeg as sy gejaag word. En ek besef  in die nano-sekonde gaan ek nie uit ta se spoegpad kom nie. Dit is nou reguit op pad na my oogballetjies toe.

Toe dit so op daai groot donker Gucci’s beland is dit asof ek wens vir ruitveërs op my bril. Want die taai gemors keer toe dat ek kan sien of hy wegseil. Maar dis of my lammigheid my ledemate verlaat. Ek ruk daai bril af, gooi dit in die gedierte se algemene rigting en tel ‘n dik stok as wapen van keuse op voordat ek haak-en-steek veld-in hardloop.

Tannie Ans, afrigter, van Wayde van Niekerk sal dadelik haar aftrede uitstel as sy my nou sou sien. Suiwer onontwikkelde talent. Toe ek so verby die vlakvarke seil, kies hulle toe nou ook om so trippeltoontjies aan te draf na waar die wortels lê.

Dis toe dat ek besef eintlik is ek nou ‘n ware Laevelder. Minus ‘n Gucci. Maar deel van die spoegkobra-oorlewingsklub.

Wie wil nou ‘n vlakvark se rug krap as jy ‘n skoot suiwer gif gefnuik het? Al is dit nou in jou mees girlie-oomblik ooit. . . mozambique_spitting_cobra_05

  AUTHOR
Elize Parker
Environmental Journalist Lowvelder

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Mini Cricket fun for Lowveld primary schools