Liesbet van die Laeveld: Van Boedapest tot Bloemfontein

MBOMBELA – My hand streel oor die sagte pienk fluweel van die kleuterpakkie op die winkelrak. Sal dit nog sneeu in Washington as dit daar aankom? wonder ek.

Dit moet immers al die pad uit sonnige Afrika na winterige Washington per koerier reis om ‘n kleinding met ’n konstante oumensgesiggie, nes my pa, teen die snerpende koue op Kersfees warm te maak.

Shamira is haar naam. Ek maak my oë toe. Dink aan die driewielfiets wat ons vir Shamira se ma, my susterskind, Diana, gekoop het, reeds in die middel tagtigerjare. In borreltjiesplastiek het ons dit versigtig toegedraai en verskeep na Hongarye.

’n Troosfiets vir ’n swartoog dogtertjie wat een in ons sonskynland gehad het, maar nie agter die Ystergordyn in Hongarye by haar nuwe tuiste een kon kry nie.

Ons het ook vliegtuigmodelle vir haar broer gestuur. Die tweetjies het daar beland toe my voormalige swaer na ’n egskeiding die twee kleuters tydens hul verblyf by ouma en oupa ontvoer het. Hy het blitsvinnig met hulle na sy kommunistiese vaderland, waaruit hy jare gelede gevlug het, teruggekeer.

Nie die Rooi Kruis, internasionale advokate, Interpol of ambassades kon deure oopdwing vir die twee om agter die Ystergordyn terug na hulle ma in Suid-Afrika te kom nie. My suster moes aanhou en kophou want dis net met geld uit Suid-Afrika wat die kleingoed aan die lewe kon hou.

Ten spyte hiervan het die kinders vreemdelinge geword. Bloot name tydens telefoongesprekke met mekaar.

Hoe kan jy in voeling bly met kinders se grootwordmylpale met ’n telefoonoproep vanaf ’n ver-af telefoonhokkie daar?

Toe val die Berlynse Muur… en die grense tussen nasies word stadig maar seker weggekalwe.

‘n Kersfees saam raak weer moontlik. Danksy die verslapping by grensposte kon my suster in die vroeë negentigerjare haar kinders vir die eerste keer in Hongarye op hul tuisdorp in die platteland besoek toe hulle uitgegroeide tieners was. Daarna het hulle in die middel negentigerjare by die oupa en ouma kom kuier.

My kinders en ander familielede het tydens hul besoek saamgekuier.

Skielik was Budapest en Bloemfontein nie meer kontinente verwyder nie. Hierna kon vele harte bind en heelmaak. Veral ’n ouma en oupa s’n wat so lank vir die versoeningsoomblik gelewe het.

Om terug na Suid-Afrika te kom was nie ’n opsie vir die twee nie. Ten minste kon my suster nou makliker met die twee kommunikeer. Vandag is my kleinneef ’n ingenieur in Hongarye.

My kleinnig het ’n Irakese Amerikaner ontmoet in Budapest waar sy gewerk het. Hulle is getroud en woon in Washington.

My suster sal lewenslank die letsels dra van die tyd toe sy van haar kinders vervreem was. Maar met die geboorte van Shamira kon ek die skuif in haar gemoed voel.

As die Berlynse Muur nie geval het nie, sou ons haar dalk nooit leer ken het nie.

Die droom was dat my kinders dalk ’n draai in Washington gaan maak. En toe word die droom waar. Skuins na Kersfees ‘n paar jaar terug ontmoet Ruby vir Shamira vir die eerste keer en vir Diana die tweede keer. Ouma se langverlore wens vir weersiens kom waar.

Omdat ’n muur deur Sy genade geval het.

Daarom koop ek die pienk kleuterpakkie hierdie Kersfees. Maak ’n fraaie geskenkboks op. Vir die bekende vreemdeling.

Met die pos daarvan kry iets van die Berlynse Muur se val gestalte in Afrika.

En gee dit my kans om diep dankbaar te kniel voor die Een wat finaal mure tussen mense en Sy Vader sovele Kersdae gelede afgebreek het en van geslag tot geslag, steeds bande knoop.

 

  AUTHOR
Elize Parker
Environmental Journalist Lowvelder

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Facility to train future scientific leaders opens in Skukuza