Bekendes in Kaapsehoop vir riller rolprent

Hierdie foto is tydens verfilming geneem,

KAAPSEHOOP – ‘n Oscar-genomineerde rolprentregisseur, silwerskermsterre en ‘n hele rolprentspan het vir ses dae op die sprokiesdorp Kaapsehoop toegesak. Siembamba, ‘n rolprent in die riller (horror) genre, is deels hier verfilm.

Kaapsehoop sal in groot dele van die rolprent te sien wees, omdat al Siembamba se buitetonele in die dorp geskiet is. Die woudagtigheid, klippe en die mis wat oor hierdie Laeveldse skat gelê het, was volgens die rolprentspan die ideale agtergrond waarteen die bangmaakstorie sal afspeel.

So het Kaapsehoop gelyk terwyl die rolprent verfilm is. Kliek op die pyltjie vir meer foto’s:

Laevelder het met aktrise Reine Swart oor haar ervaring gesels.

Siembamba sal in September in teaters wees.

Siembamba sal in September in teaters wees.

Sy beskryf die mense van Kaapsehoop as “warm en innemend” en die groep se verfilmingswerk as “baie lekker, maar harde werk.” Darrell Roodt is die rolprent se regisseur. Dit was vir Reine ‘n loopbaanhoogtepunt om saam met hom te kon werk.

“Hy is ‘n fenomenale regisseur en die eerste Suid Afrikaner wie se film genomineer is vir ‘n Oscar,” het sy aan Laevelder gesê. Hierdie bobaasregisseur het Reine gehelp om die emosies op te wek wat sy nodig gehad het om in ‘n gruwelprent op te diep. Die vervaardigers, Sam Frauenstein en Jennifer Mostert, was saam met haar en haar kollegas in Kaapsehoop.

“Ons het lekker gekuier en saam gewerk – dis nou die hele span wat akteurs Brandon Auret, Thandi Puren, Dorothy-Ann Gould en Deànré Reiners insluit,” het sy gesê. “Darrell het die stel lewendig gehou en Justus de Jager – die fotografiedirekteur – het uitstekende werk gedoen.”

Reine Swart.

Reine Swart.

“Hy weet wat hy wil hê. Dit maak die lewe makliker wanneer ‘n mens met talentvolle, ervare mense soos hy werk,” het sy gesê.

Die gruwelgrimering is deur Mary-Sue Makeup en Luarnae Roos en hul spanne gedoen.

Oor haar ervaring van Kaapsehoop kan Reine nie uitgepraat raak nie.

“Ek en Dorothy-Ann het ‘n huisie gedeel en kon die eerste aand die wilde perde hoor runnik. Die diere is so mooi en lyk rustig daar. Een aand toe ons by die huis gekom het, het twee perde ons op ons stoepie ingewag. Ander aande het die mis so opgekom dat ons skaars voor ons kon sien. Dit was vir my so misterieus en pragtig,” het sy gesê. Reine wil weer in Kaapsehoop kom kuier en haar man saambring vir ‘n romatiese wegbreek of ‘n naweek vol staproetes.

“Die kafees en restaurante het ons beïndruk. Ek het die pannekoek met ‘n melktertvulsel by Koek ‘n Pan geniet en Bohemian Groove Café se forel was heerlik. Miz Gooz Berry se skons was uit die boonste rakke en ons het lekker by Salvador gekuier,” het sy opgenoem en bygevoeg dat sy die dorp se ander restaurante tydens ‘n volgende besoek op die proef sal stel.
Siembamba sal van 1 September 2017 in rolprentteaters te sien wees.

Foto’s: Siembamba Movie.

  AUTHOR
Helene Eloff
Legal Adviser & Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Local athletics coach is currently cutting his teeth in Nairobi