Egpaar vier 40ste verjaarsdag in Komatipoort

KOMATIPOORT – Geliefde inwoners dr. Jan Maree en sy vrou, Kitty, het gister hul 40ste jaar op die dorp gevier. Die paartjie het groot waardering vir Komatipoort se goeie mense, kollegas en die ongelooflike liefde wat hulle gesin die afgelope vier dekades hier ervaar het.

Jan het in Alberton grootgeword, in 1967 by Alberton Hoër gematrikuleer en sy BSc in 1970 by RAU behaal. Hy het sy studies met ‘n weermagbeurs voortgesit en sy mediese graad in 1975 by Tukkies verwerf.

Kitty het in Vereeniging grootgeword en by Potchefstroom se Onderwyskollege gestudeer. Haar eerste pos was as wiskunde-onderwyser by Hoërskool Langenhoven.

Haar en Jan se mooi liefdesverhaal het op ‘n troue begin, toe hulle strooimeisie en strooijonker op sy neef se troue was. Die tweetjies is in Desember 1975 self getroud.

13873243_1713080812274343_7675095888274725436_n

Hulle twee kinders, Johan en Soné, was albei in Laerskool Komatipoort. Die Marees het nou vyf kleinkinders.

Die dokter het in 1977 privaat in die dorp en as ‘n Transnet-geneesheer begin praktiseer. Sy spreekkamer was in sy eerste huis, wat vandag as Stoep Café bekendstaan. In 1982 het hy na die spreekkamer oorkant die straat geskuif, waar hy steeds is. Hy was ook die distriksgeneesheer. Tans behandel hy slegs privaat pasiënte. Hy doen reeds vanaf 2006 forensiese werk.

Die Marees se verblyf op die dorp het leed saam met die lief, gehad. Hulle pragtige huis op die wal van die Komatirivier het in 2003 afgebrand. Mettertyd is dit herbou en hulle bly steeds daar. Dok Jan het ook al 13 900 lykskouings regoor die Onderberg gedoen. “Deel daarvan was sommige van my vriende of kinders van ouers wat ek geken het. Dit was baie traumaties,” sê hy.

Hy is altyd bereid om te help. “Ek sal bly werk so lank ek kan, en streef om lyding, waar ek kan en binne my vermoëns en beskikbaarheid, te verlig. Dit is omdat ek die gawe ontvang het om te genees en ek moet dit uitleef en ontgin,” vertel hy. Kitty sê dit was ‘n groot aanpassing om ‘n dokter se vrou te wees, aangesien haar man gemeenskapsbesit is.

Sy het in 1984 Wielie Walie Kleuterskool met 20 kinders begin en Ronnie van der Bank en Maryna Theunissen het haar bygestaan. Nog ‘n helper, Lina, het die 10 maande oue Soné opgepas. Die NG Kerk het later die skool by haar oorgekoop, en die naam na Noag se Ark verander. Tans staan dit as Kwetternes bekend. Sy het later haar eie privaatskool, “Tineke Leersentrum” vir gr. 1’s tot 12’s gehad. Tans hou sy privaat vir kinders met spesiale behoeftes skool.

Kitty is ‘n kranige sportvrou en was verantwoordelik vir die stigting van die korfbalklub saam met Johan Verwey van Mbombela. Sy is ook ‘n stigterslid van die Onderberg- en Komatipoort-marathonklubs.

Sy het ‘n swart belt in kontakkarate. “Ek het dit meer gedoen vir self-verdediging en het my eie dojo gehad. Om fiks te word vir karate, het ek begin draf en net daar het die gogga my gebyt,” vertel sy.

Kitty het die Comrades nege keer voltooi, die Two Oceans 12 keer en die Loskop 13 keer. Sy het ook marathons by Kilimanjaro, die Victoria-waterval, Berlyn en Athene kafgedraf en aan die Jock- en 94.7-fietsryrenne deelgeneem.

Kitty het die Comrades nege keer voltooi, die Two Oceans 12 keer en die Loskop 13 keer. Sy het ook marathons by Kilimanjaro, die Victoria-waterval, Berlyn en Athene kafgedraf en aan die Jock- en 94.7-fietsryrenne deelgeneem.

“Na 30 jaar van hardloop het die tyd my ingehaal. Ek is as provinsiale skeidsregter nog steeds byna elke naweek by padwedlope betrokke. As ek terugkyk oor die afgelope 40 jaar, is ek dankbaar dat ek my gawes en talente in die gemeenskap kon terugploeg,” sê sy.

Op sy beurt het Dokter Jan sy dank betuig “aan ons hemelse Vader vir dit wat Hy vir my en Kitty en die kinders gedoen en beteken het. “Baie dankie aan my huidige personeel en dié wat saam met ons gewerk het. Sonder julle was dit nie moontlik om alles te vermag te nie.”

Fotos: Kitty Maree (Facebook)

  AUTHOR
Chrissie du Preez

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Agfo Expo provides just the right platform