Dubbele goud vir ons atlete

Nolwazi (o/15) se wenafstand van 12,38m, ‘n byeenkoms-beste, plaas haar na afloop van die naweek onder die top-15 driesprongatlete op die Internasionale Atletiek-federasie (IAAF) se wêreldranglys vir o/18’s.

Atletiek Mpumalanga het die jongeling op grond van haar prestasies gekies om in Kaapstad te gaan deelneem, hoewel die byeenkoms net vir o/18- en o/20-atlete is.

“Sy het met haar eerste paar spronge gesukkel, maar het met haar derde een die goue medalje verower. Sy kon maklik die 13m-merk oorskry het,” het haar afrigter Johan Kruger gesê.

Nolwazi het ‘n tweede plek in die verspringput met ‘n afstand van 5,96m behaal. Die gouemedalje-afstand van 5,75m is deur Andrea Corneliss opgestel.

Joshua (o/16) wat skaars ‘n week terug die SA Skoletitel ingepalm het, is ook nou die land se o/18-spiesgooikampioen nadat hy die spies 71,15m laat trek het. Die blondekop het las van ‘n elmboogbesering wat hy Desember opgedoen het gehad. Sy eerste byeenkoms vanjaar was by Mussas in Secunda.

Joshua Maass en Nerina Visser.

“Dit was ‘n tawwe kompetisie. Hy het nie in die item voorgeloop nie en moes diep delf om daardie goud om sy nek te hang,” het NHS se atletiekspesialis, DP Badenhorst gesê.

In die 400m-hekkies, het Nerina weer gewys hoekom sy ook Suid-Afrika se skolester is, toe sy Saterdag in die finale lopie in die item, met ‘n wentyd van 01:01,76 die eindstreep oorgesteek het.

Hoewel Hoërskool Rob Ferreira se Nkosana Mpinga hoopvol vir ‘n medalje was, moes hy as gevolg van ‘n liesbesering onttrek.

Amos Khoza.

Spanmaat, Amos Khoza wat verlede jaar die goue medalje in die 800m verower het, moes toekyk hoe Sentraal-Gauteng se Ndimande Ntuthuko sy titel onder sy neus wegraap. Amos het ‘n algehele derde plek met ‘n tyd van 01:52,13 behaal.

Norbert Ponisammy (LHS), wat reeds in Durban met sy hammy gesukkel het, het nie aan sy spesialiteitsitem, die 100m deelgeneem nie. Hy het wel sy derde medalje in twee weke ingepalm, nadat hy ‘n silwer in die verspringput met ‘n afstand van 7,22m losgespring het.

Lees ook: Norbert sprints from a life of despair to glory

“Norbert kon goud geneem het, maar hy het nie sy kanse gebruik nie. Ons atlete is nie gewoond aan die winderige toestande van die Kaap nie, maar onder die omstandighede het LHS se atlete baie goed gevaar. Hulle kon egter beter gedoen het,” het Kruger gesê.

Nóg ‘n atleet van LHS, Frank Muwayi het sy stempel in die driesprong afgedruk en met ‘n bronsmedalje (14,44m) teruggekeer Laeveld toe.

  AUTHOR
Carli Koch
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
So naby, maar tog so ver