Wanneer Dinge in ons lewens nie volgens Plan verloop nie

Ek kruip gebukkend na die tentjie se deur toe, sukkel met die rits en kruip toe steunend en kreunend na buite toe. My rug voel of hy af is. Dis snerpend koud buite en ek moet draf om betyds by die kleedkamers te kom. Waarin het ek my begewe?

Met my wolmus op en die koffie-water aan die kook gaan dit al beter. Binne roer nog niemand  nie en ek skik maar vir eers met “koffie vir een.” Die mis is dig toe en van waar ek sit sien ek net die onheilspellende toppe van die bome rondom die tentjie. Dit lyk ‘n bietjie soos my gemoed dink ek- betrokke en sonder visie.

Maar dis hoekom ek hier is. Dis ‘n moeilike tyd in my lewe- so erg dat ek Job begin lees het. En op Job se aanbeveling is ek hier. Ek het lank gespook met Job en beproewinge in mens se lewe. Mens het so baie vrae sonder antwoorde.

Dis of God die gordyn ‘n bietjie ooptrek in Job oor wat agter die skerms aangaan tydens moeilike tye in mens se lewens. En ek het nog steeds nie die antwoorde nie maar ‘n paar gedagtes het my bygebly.

Eerstens is daar die  onwrikbare versekering dat God ons oppas en beskerm en seen. Hierdie feit word nogal deur satan gegee. (Job 1:10- ou vertaling) En ek het ‘n spesmaas dat ons hom hierdie keer kan glo. Hy getuig voor die troon van God dat hy niks kan doen aan iemand wat deur God beskerm word nie.

Tweede feit wat mens eintlik harseer maak is dat God so oneindig trots is op elkeen wat Hom liefhet en probeer gehoorsaam. (Job 2:3- ou vertaling)

En dan kom Satan se roekelose uitdaging aan God:  gee net bietjie skiet op die beskerming van hierdie ou en laat my toe om hom net so bietjie te roer, dan sal U sien hoe vinning swig hy. (Job 1:11)

Met oneindige deernis en onder Sy wakende oog aanvaar God die uitdaging van satan en laat Hy die vyand toe, om ons aan te val- tot op ‘n punt.

En dan gaan dit met ons soos dit party maal gaan in ons lewens . Ongelukke tref ons, party verloor besittings. Party ouens se gesondheid word aangeval, ons verloor geliefdes. Ons verhoudinge loop skeef. Vriende laat ons in die steek.. en partykeer gaan dit soos met Job, alles tegelyk tref ons. En ons steier onder die aanval.

Dit het my gehelp om te verstaan wat agter die skerms gebeur, maar dit het my nog nie laat beter voel nie. Tot ek agter gekom het dat God persoonlik raad gee oor wat ons kan doen om beter te voel en om nie te knak onder die aanvalle nie. (Job 38-41) Snaaks genoeg, God het ons nie aangeraai om vir berading te gaan, of om massa samekomste by te woon nie.

God se raad is:  kom buite toe! Sien ‘n slag jou Skepper raak! Leer jou Skepper ken deur na die Skepping te kyk.

Vry vertaal verstaan ek dat God se raad is, haal die mikro en die makro-lense uit van die kameras. Versool jou stapskoene, kry slaapsakke en wolmusse en gaan klim die berge. Soek die reenboe en die watervalle op. Neem fotos van sneeuvlokkies en nat spinnerakke.  Kry ‘n teleskoop, ‘n branderplank en ‘n skoenlapper-net en ‘n boek oor grassade. Kyk hoe ‘n kalfie gebore word – en WEET dat daar ‘n Almagtige Skepper God is!

Wat jou in Sy handpalm hou.

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Leser se brief: Dogter dol oor ou Joe