KMI Airport Rhinos stroop die Rooi Bulle van hul titel

Joao Christovam. Foto: Hennie en Handré Homann/ Africa Photographic Services

Die eerste rugbyspan van Hoërskool Nelspruit het die verdedigende kampioene, die Rooi Bulle op eersgenoemde se tuisveld met 22-17 geklop.

HTS Middelburg het die eerste helfte van die kragmeting oorheers. Hulle voorspelers se kragspel in die afbreekpunte het NHS opdraande in die skrums gegee.

Flank van die Rooi Bulle, Tiaan de Beer het in die eerste helfte onder die pale gaan kuier met Riekert Barnard wat verdoel het om die besoekers ‘n voorsprong van 7-0 teen rustyd te gee. In die tweede helfte het NHS verbete teruggeveg met Reinhardt Roets wat sy span se eerste drie gedruk het. André Vosloo het van die plaasvervangersbank ‘n groot impak gemaak.

Lees ook: Nellie se spelers gee pas aan op die veld

Renier Troskie en Joao Christovam wat deel van die Pumas se o/18-Cravenweekspan is, het albei vyfpunters aangeteken.

Stephan van der Bank, wat ook deel van die Cravenweekspan is wat Julie na St Stithians toer, het met twee doelskoppe asook ‘n strafskop deur die pale geslaag.

Carlo Nortje, Riekert en Uys du Preez het dit egter nie vir NHS maklik gemaak nie en was van HTS Middelburg se sterspelers.

Die besoekers was in die laaste paar minute van die senutergende stryd op die aanval, maar NHS het soos tiere verdedig om hulle van hul doellyn af te hou.

Joao is na afloop van die kragmeting as die speler van die wedstryd aangewys.

NHS kom in Augustus in die kwarteindstryd van die Virseker-trofee teen Blou Bulle twee te staan.Die wedstryde word eers later beslis.

Uitslae (NHS vs. HTS Middelburg)
O/14: 17-0
O/15: 17-17
O/16: 46-31
Derdes: 27-20
Tweedes: 57-26
KMI Airport Rhinos: 22-17.

  AUTHOR
Lisa van Rooyen

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Don’t confuse swine flu with seasonal influenza