‘n Driekuns vir Laerskool Bergland

Willem Blom.

Die Bergies het Maandag vir Laerskool Nelspruit met 17-10 geklop.

Die twee spanne het ook in die derde ronde van die Ehlanzeni-liga vroeër vanjaar koppe gestamp met Nellies se Drikus Greeff wat in die doodsnkikke met ‘n strafskop geslaag het om hulle met 22-20 te laat wen.

“Speel hard en vir mekaar.” So het die hoofseun en kaptein van Bergies se eerstes, Willem Blom Maandag vir sy span in die kleedkamer voor die aanvangs van die kragmeting gesê.

Albei spanne het twee drieë aangeteken. Die verskil was egter Willem se skopskoen.

Nellies het goeie druk op Bergland toegepas. Nelspruit se Brend de Villiers en Wiehan Henning was vir hulle span goud werd.

“Dit was ‘n tawwe stryd gewees. Ons het net verdedig in die tweede helfte, maar die seuns het by die struktuur waaraan ons die afgelope seisoen gewerk het, gehou.”

Kampioene! Bergland se eerste rugbyspan is vir die derde agtereenvolgende jaar as Mpumalanga-grootskolewenners aangewys.

“Ons het die seisoen met die leuse: ‘God eerste, span tweede, ek derde’, aangepak. Ons is dankbaar dat ons seuns die voorreg gehad het om in die eindstryd te kon speel. Die seuns en afrigters het die afgelope vyf jaar baie hard gewerk om te bereik wat hulle bereik het.”

“Ons wil graag ons ouers en oud-Berglanders bedank vir hulle betrokkenheid en ondersteuning,” het afrigters Kobus de Wit en Tobie Pretorius gesê.
Bergland het teen rustyd gemaklik met 14-0 voorgeloop.

Agtsteman, Devandré Ginden, wat hierdie seisoen 33 drieë vir sy span gedruk het, en Joshua Divine (flank) het elk in onderskeidelik die negende en 24ste minuut onder die pale gaan kuier. Willem het albei die vyfpunters verdoel.

Losskakel van Nellies, Joshua Louw het vroeg in die tweede helfte ‘n deurbraak gemaak en die bal wyd na Darren Miles versprei wat oor die doellyn geduik het.

Minute later het Bergland met ‘n strafskop geslaag.

Nellies se Braam Basson.

Nellies se Wiehan het sy span se tweede drie na ‘n opbou van 12 fases gedruk, maar dit was helaas nie genoeg om as kampioene uit die stryd te tree nie.

“Dit was ‘n uitsonderlike rugbyjaar vir Nellies met al vier van ons spanne wat as Ehlanzeni-wenners gekroon is, en drie spanne wat tot die eindstryd van die Mpumalanga-liga deurgedring het. Dit is ‘n teleurstelling vir die eerstes om nie die beker te kon verower nie, maar ons as afrigters is trots op die seuns se veggees wat hulle in die tweede helfte gewys het,” het Nellies se breiers, Gerrie Doyer en André Drummond gesê.

Willem was verlede jaar ook deel van die span wat die trofee omhoog gehou het.

“Dit is ‘n lekker gevoel om vir die tweede agtereenvolgende jaar in die eindstryd te kon gespeel het,” het Willem met ‘n groot glimlag op sy gesig gesê.

  AUTHOR
Carli Koch
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Tafel vir top-toernooi in Boksburg gedek