Innibos ken kwaliteit en weet local is lekker

Klara Maas se hart is gebreek. Foto: David Viviers

MBOMBELA – . Van die akteurs begin nou goed naam maak in die nasionale bedryf, ander is bekende gesigte op die plaaslike bodem en word gereeld by geleenthede “by die huis” opgemerk.

Feesgangers sal hierdie kunstenaars vanjaar om bykans elke hoek en draai raakloop: Of dit nou toevallig op ‘n kuierverhoog, by die gesellige Boma-kuierteater, of op die meer formele planke van die teater is, hiper-local is inderdaad lekker by Innibos.

Die 14de fees se tema is “’n Stappie verder”, maar in verskeie opsigte kan dit ook beskou word as “’n treetjie nader”.

Innibos is nie om dowe neute een van die grootste enkele jaarlikse ekonomiese inspuitings in die omgewing nie. Dit skep vir nagenoeg 800 mense tydelike werk oor die vyf dae en gee die stad se bedrywe oor alle spektrums ‘n stewige kontant-inspuiting.

Tog gaan die fees oor die kunste. Of dit nou ten bate van die gehoor is, wat op plattelandse bodem topgehalte vermaak in al sy glorie kan beleef, of van die kunstenaars is wat daardeur in staat gestel word om hul loopbane te volg met dit wat hulle die beste doen: die volk vermaak met hul kreatiewe talente.

Hierdie talent is voor en agter die spreekwoordelike skerms te sien. En daar is veel meer aan plaaslike talent wat ten toon gestel word as die venues en borge.

Die randkunsuitstalling by die Mbombela-kunsgalery in Van Riebeekpark fokus op die talente van meer as 30 beeldende kunstenaars wat in die stad en omstreke woon en werk. Dis voorwaar “Uit die Bok(s)”, eklekties en verteenwoordigend van ‘n wye reeks genres. Dit is elke dag vanaf 08:00 tot 17:00 oop en toegang is gratis.

Die 20-jarige Menzi Mkhonza Mkhonza, ‘n plaaslike jong digter, is daagliks om 12:45 by die Boma te sien. Sy debuutbundel, The pressure of love, het verlede jaar verskyn.Hierdie jongman van KaMagugu het twee jaar gelede by Lowveld High School gematrikuleer. Hy sê hy het nog net een Afrikaanse gedig geskryf, en dié het nog nie ‘n naam nie.

Laevelder het kort voor sy eerste optrede met die digter gesels. Hy was op sy senuwees, want met sy Innibos-optrede verander hy van baadjie: hy word ‘n performance artist.

Hy gaan gedigte opsê en kitaar speel. Elke optrede beloof egter om anders te wees: dit sal wissel vanaf sy eie werke tot bekende Afrikaanse poësie.

Wees ook op die uitkyk in Mbombela vir sy maandelikse “Words in my mouth” poetry slam by Stoep. Die volgende een is 14 Julie.

Wessel Pretorius wat nie lank gelede by Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het nie, is in Koöperasiestories te sien, die nou ontslape meester PG du Plessis se drama, een van twee van Pieter se produksies op vanjaar se Innibos se toneel-toneel.

Hy verskyn saam met veterane Chris van Niekerk, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Carel Nel (onder regie van die teater-doyenne Sandra Prinsloo). Dit wys nog vandag om 09:00 en môre om 15:00 by Laerskool Laeveld. In die lawwe maar roerende “biografie van ‘n traan,” Klara Maas se hart is gebreek speel Pretorius vandag by die Boma-kuierteater om 14:00 en weer môre om 11:00.

Die ander PG-stuk, die drama Die Nag van Legio, sien Francois Jacobs in die rolverdeling. Hierdie boorling van die Laeveld het opslae in die hoofrol in Vir die Voëls gemaak. Die rolprent is ook te sien by kykNET se Bosbioskoop, ‘n gratis fliekvenue wat Afrikaanse kortfilms en ‘n filmfees aanbied. Die Rebellie van Lafras Verwey, uit die pen van die Laeveld se Chris Barnard, is ook daar te sien.

Jacobs wys ook vandag gesig in #ditwatjullenieweetnie, by die Boma-kuierteater om 11:00 en môre om 13:00.

Saam met die ander Mbombela-boorling Adriaan van As, lap dit die donker geheime uit van wat voor die skerms en agter die toneelgordyne van die vermaaklikheidsbedryf aangaan.

Stiaan Smith, ‘n voormalige leerling van Hoërskool Bergvlam, is onlangs vir die beste draaiboek by die kykNET Silwerskermfees vir sy kortfilm Beurtkrag bekroon.

Stiaan het die verhoogteksverwerking vir die gelyknamige toneelstuk, met die land se geliefde voor-die-skerms van Beurtkrag gedoen.

Die gewilde mentalist, Riaan Loubser, neem later vandag by die Boma-kuierteater dinge ‘n stappie verder in Illusionêr.

Na sy vorige suksesvolle optredes, neem hy sy sielkundige en kultustegnieke en visuele inligting om gedrag te voorspel en te “beheer” ‘n bietjie verder.

Wees op die uitkyk vir jong plaaslike opkomende sangers en musikante wat oor die vier dae by die verskeie kuierverhoë te siene sal wees.

  AUTHOR
Mireille de Villiers
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Mentalist laat gehoor sprakeloos