NHS neem afskeid van geliefde skoolhof

Hoërskool Nelspruit (NHS) is die verpersoonliking van hierdie gesegde en dit vra ‘n spesiale en visionêre man om die gemeenskap saam te snoer om ‘n skool te bou wat die toets van tyd kan weerstaan. NHS en die breë skoolgemeenskap het Saterdag tydens ‘n spogfunksie in die skoolsaal formeel van die uittredende hoof, dr. Louis Swanepoel afskeid geneem.

Byna 200 kollegas, jare lange oudkollegas, vriende, vriende van die skool, ouers van die skool en sy familie het hom by hierdie totsiens-geleentheid kom groet. Swanepoel was sedert 1994 adjunkhoof by NHS en het in 2005 die leisels by Corn Booyens oorgeneem. Hy sal nou voltyds sy amp as president van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) opneem en ook as konsultant vir die Mpumalanga-onderwysdepartement beskikbaar wees. Die aand is op ‘n gewyde en gepaste manier afgeskop deur Swanepoel se jare lange vriend en geloofsleier, ds. Thys Erasmus.

Verskeie sprekers, waar onder Johan Hattingh (nuwe waarnemende hoof), Musa Linkwati (Mbombela-kringbestuurder), Louis van der Nest (voorsitter van die skool se beheerliggaam) en Chris Klopper (hoof-uitvoerende beampte van die SAOU) het hulle waardering vir Swanepoel namens hulle organisasies uitgespreek. Hy en sy gesin was vir die 23 jaar wat hy by NHS werksaam was, ook ‘n inwoner op die skoolterrein. “My wortels by NHS is diep en stewig gesetel in kosbare herinneringe,” het hy tydens sy toespraak gesê. “So het ‘n seisoen in ons lewens aanbeweeg, maar koester ons die tyd by die skool – die leefwyse en manier waarop ek myself kon uitleef, en ook baie kostellike oomblikke.”

Swanepoel het veral woorde van waardering teenoor die skool se beheer-liggaam wat deur baie jare waarde tot sy eie menswees toegevoeg het, uitgespreek. Verder het hy Linkwati geloof vir sy visie om net die beste vir die skole in sy kring te wil hê, en sy opgewondenheid om verder saam met Klopper by die SAOU te werk, beklemtoon. Hy het die Laeveld-hoofde teenwoordig aangemoedig om gehalteonderwys in die omgewing te koester en uit te brei. Laastens het hy Booyens geloof vir goeie oordeel en sy aanmoediging om by georganiseerde onderwys betrokke te raak. “Baie dankie aan die gemeenskap wat my las as hoof lig gemaak het. Dankie dat ek altyd ondersteuners van die skool as klankbord kon gebruik. Dankie vir die gemeenskap se inkoop, en dat dit nooit nodig was om iemand van iets te oortuig om suskesvol voort te kan gaan met ‘n idee nie,” het hy afgesluit.

  AUTHOR
Mellissa Bushby

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
NHS voices have no equal