Bekende stem wys swerkaters uit

MBOMBELA – Dan kom gesels die veelbekroonde radiojoernalis en aanbieder by RSG se nuusprogramme, Monitor en Spektrum, Izak du Plessis oor sy boek, Boereverneukers.

In Boereverneukers – Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters – vertel Izak op sy nimlike lekkergeselstrant oor die lewens van 14 van ons berugte Afrikaanse swendelaars.

Die karakters is sjarmant, galant, elegant, belese, gelowig, bedagsaam, selfversekerd, hiperintelligent… en jy kan nie help om van hulle te hou nie, beskryf Izak die swerkaters.

“Maar eintlik is hulle glibberige gladdebekke wat jou in ‘n ommesientjie platsak gaan laat. Want hulle lieg, bedrieg, gee voor. Hulle verdraai, verdoesel, verduister, verwoes. En, as jy jou oë uitvee, is jy nie net jou geld kwyt nie, maar ook jou reputasie en status, terwyl die gladdebek lankal soos mis voor die môreson verdwyn het. Sommige van hulle is so goed dat hulle selfs bewonder word ten spite van hul verfoeilike skelmstreke.”

Van Boereverneukers se karakters is minder bekend, maar ander soos Adriaan “kubuskoning” Nieuwoudt, die pynmasjienman Gervan Lubbe, die kamma-pediater André Esterhuizen, die Hertzogville-profeet David Francis en selfs president Paul Kruger is kalante wat berug en beroemd is.

Om nie eers te praat van die berugte Godfather van die Wes-Rand, Ralph Haynes nie.

Kom kuier en gesels saam met Laevelder en Izak oor sy boek op Donderdagaand om 18:00 by A Bica Koffiewinkel in die Belladonnasentrum. Kaartjies kos R50 per persoon en dit sluit ‘n heerlike bord tuisgemaakte bobotie, geelrys, pampoenkoekies en slaai in.

Bespreek vroegtydig by 0733299238.

  AUTHOR
De Wet Potgieter
Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
UPDATE: Kruger National Park strike suspended