Jong sterre skitter in VSA

Arili Boshoff en Jovan Lubbe.

Hulle het verlede jaar ‘n oefenkamp by Hoërskool Nelspruit bygewoon wat deur een van Amerika se mees gerekende afrigters, Abri du Plooy aangebied is.

Na afloop daarvan is die beste seun- en dogterspeler aangewys wat ‘n drie weke lange kamp by Du Plooy se tennisakademie in New Orleans sou bywoon.

Arili en Jovan was die enigste twee spelers van Suid-Afrika wat dié voorreg te beurt geval het.
Hulle het altesaam drie oefenkampe van Du Plooy bygewoon en in twee toernooie van die VSA se tennisvereniging – een op klei en die ander op ‘n harde baan – gespeel.

Albei het die twee toernooie gewen.

“Ek het gedink een van die ouer spelers sal die prys wen. Toe hulle my naam uitlees, toe is ek net soos, ‘regtig?’ Ek het gesien dat Suid-Afrika se tennis nie so ver agter is nie en dat ons tog teen die Amerikaners kan kompeteer,” het Laerskool Nelspruit en Laeveld Junior Tennis (LJT) se o/13-topspeler, Arili gesê.

Curro Nelspruit se Jovan en LJT se nommer een-gekeurde o/13-speler, het verlede jaar ook ‘n tenniskliniek in Amerika bygewoon en daarna besluit om vanjaar net op sy tennis te konsentreer.

“Ek het verlede jaar aan ander sportsoorte deelgeneem, maar vanjaar fokus ek net op my tennis. Dit wat ek in Amerika geleer het, het my net meer gemotiveer om te probeer om volgende jaar weer te gaan.”

Die twee se afrigter, Eckhardt van der Linde, het groot lof vir sy spelers.

“Hulle het soveel ervaring in Amerika opgedoen. Hulle talent is gegrond op die harde werk wat hulle daagliks op die baan insit. Hulle het ‘n talent en ‘n oog vir die bal. Vanuit my ervaring oorsee, is Jovan en Arili beslis op dieselfde vlak as die Amerikaanse spelers van hul ouderdom.”

Arili Boshoff, Eckhardt van der Linde en Jovan Lubbe.

Du Plooy kom aan die einde van September weer Laeveld toe en tennisspelers gaan weer die geleentheid kry om met hul beste spel vorendag te kom en ‘n beurs na Amerika in hul sakke te steek.

Laeveld Tennisvereniging speel vir die eerste keer in meer as 10 jaar weer gasheer vir ‘n Tennis Suid-Afrika-geaffilieerde toernooi, die Grand-prix. Dit vind van Saterdag 30 September tot Dinsdag 3 Oktober plaas.

Besoek www.tennissa.co.za vir meer inligting.

  AUTHOR
Carli Koch
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Dallas wink vir Vlammie-spelers