Die kat kom wraggies weer

Anders as in die kat-liedjie, was dit egter nie die Laeveld wat soseer probeer het om hierdie kat weg te keer nie, en het selfs die predikant glo destyds gevoel hy sou dié kat langer kon verduur, maar Mariana-kat was gereed vir avontuur.

Slimmes sê katte, eintlik mos maar wilde diere, behou hul oerinstink om nuwe plekke en dinge te ondersoek. Of in mensterme: jy kan die mens uit die bos haal, maar nie die bos uit die mens nie. Hulle sê ook dat katte nie maklik hul eerste tuistes vergeet nie en graag daarheen terugkeer.

In September 2013 het die Balts dus hul besittings uitgedeel en die nodigste in ‘n vervoerwa met ‘n Windhoekse registrasienommer laat laai, hul vriende gegroet, vir Bak en Vivijan vol (duur) brandstof getap en opgewonde die pad Namibië toe aangedurf.

Natuurlik is daar hard gewerk: Die nuutjie van om vir ‘n dagblad te werk – wel effe vervelig in ‘n land waar die laerskool Cravenweekspan se neerlaag die aandnuus haal – gebalanseer met die aanleer van vreemde name deurspek met tongklapklanke; verskeie weeklange reise na die Noorde en Suide saam met ‘n bemarker in ‘n maatskappybakkie om tuis die maandelikse byvoegsels tot die Afrikaanse dagblad met gemeenskapstories te vul. Drie jaar gelede kon ek ‘n drietalige stadskoerant op die been bring met die kennis en ervaring wat White River Post en Hazyview Herald hier verskaf het en het die ink in my are weer nuwe oemf gehad.

Maar naweke was ons professionele gatskuurders. Met heelwat goedkoper brandstof is die paaie na die kus (waar helaas ook nie meer soveel vis byt nie), Etosha en Damaraland, snuifgetrap en rooi duine, miershope, kameeldorings en die Namibiese sterrehemel oor en oor bewonder en gekiek. En het hierdie katte baljaar tussen ou grootword-vriende, met brötchen-etes, jagdwurst, kässler en eisbein by Joe’s Beerhouse, afgesluk met baie koue Windhoeks.

Maar altesame dertien vakansies en naweke is aan die Suid-Afrikaanse kant van die Garieprivier kom spandeer. Dis dalk hier waar die knoop gelê het. Namibië huisves die wêreld se meeste jagluiperds, ‘n spesie daarvoor bekend dat jy hulle verder as 400 km van hul tuiste af moet hervestig, anders haal hulle ook kat-maniere uit. Dalk was ons nie ver genoeg van die Laeveld weg nie.

Kortom, waar die storie-kat se desperate verbanning na die maan met ‘n gebarste ballon gefnuik is, het ons opwindende verblyf in ons hartsland soos ‘n ballon afgeblaas: Stadig maar seker, maand vir maand, soos die ouderdom ‘n mens bekruip. Toe die lewensklok ses harde slae slaan en die resessie die buurland se mediamanne laat rondkyk vir uitkoms, was dié kat se loopbaandoppie geklink.

Ou ervare katte laat hulle egter nie sommer uitsit of tot aftrede verban nie en die Laeveldse avokados, neute en standhoudende riviere se smaak en reuk het die kat se snorbaarde laat roer. Met die wilde streep steeds daar, was die verleidelike aanbod om vir Laevelder oor omgewingsake te kom verslag doen, een te veel en het Mariana-kat begin gereedmaak om die Laeveldse huis muisvry te kom help hou.

Dus, die anderdagmôre was die kat weer hier!

Mariana Balt

083 968 8247

[email protected]

  AUTHOR
Mariana Balt
Environmental Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Koop ‘n Afrikaanse boek en bevorder die taal