‘n Groot eer val Pumas se De-Jay Terblanche te beurt

De-Jay Terblanche.

Dié boorling van Knysna sal naas Connie Botha (SWD Arende, 191), die tweede meeste getal wedstryde as stut agter sy naam skryf. Francois Rossouw is die mees ervare speler met 183 wedstryde in ‘n Pumastrui.

De-Jay het sy Pumas-buiging op 27 Junie 2008 teen die OP Kings op die Johan van Riebeeck-stadion in Witbank gemaak. Hy het as plaasvervanger opgekom en ‘n drie gedruk.

De-Jay Terblanche.

“Om in my 170ste wedstryd te gespeel het, was ‘n groot eer. Ek het nie gedink ek gaan tot hier kom nie. Dit gaan nie vir my soseer oor talent nie, maar oor al die seëninge wat na my kant toe gekom het,” het De-Jay gesê.

Die 32-jarige het by Hoërskool Knysna matrikuleer waar hy sedert gr. 9 vir sy skool se eerste rugbyspan gespeel het.

Daarna het vir Boland se o/20’s (2004) en o/21’s tussen 2005 en 2006 gespeel.

De-Jay het ‘n twee-jaar-kontrak in 2007 by Dungannon Rugbyklub, Ierland gesluit, maar na ‘n oproep van ‘n vriend wat by die Pumas gespeel het, het hy besluit om na sy geboorte land terug te keer.

“Emile (Botha) het my gebel en gesê die Pumas soek ‘n stut. Emile het sy nek seergemaak en moes vir ‘n operasie gegaan het. Net daar het ek vir Jimmy (Stonehouse) gebel en gevra of ek Pumas toe kan kom. En so het my rugbyloopbaan by die Pumas begin.”

Tydens die Pumas se af-seisoen, het hy tussen November 2015 en Maart 2016 in 15 wedstryde vir Stade Montois, Frankryk gespeel.

Van sy beste herinneringe by die Pumas, was die eerste keer wat die span die promosierelegasie in 2009 onder een van Suid-Afrika se top-afrigters, Stonehouse gewen het. In sy 100ste wedstryd teen die OP Kings het die Pumas die eerste keer in die Curriebeker Eerste Divisie die trofee omhoog gehou.

“’n Wedstryd wat ek ook nooit sal vergeet nie, was ons eerste kragmeting op Mbombela teen die Blou Bulle wat ons gewen het.”

Dink jy daaraan om binnekort jou rugbyskoene weg te bêre?

“Die enigste besering wat ek in die 14 jaar wat ek rugby speel, opgedoen het was in 2005 toe ek my maermerrie gebreek het. Ek sal tot en met die dag wat die Pumas my die geleentheid gee om betrokke by die span te wees, rugby speel.”

Hy en sy vrou, Andrea het verlede jaar Oktober by Manyeleti in die Kruger Wildtuin verloof geraak en ‘n maand later by Kavinga die knoop deurgehak. Hulle seuntjie, Josua is nou bietjie meer as vier maande oud.

  AUTHOR
Carli Koch
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Visitors to use temporary restaurant facilities in Kruger