911Riders word hartlik ontvang in Limpopo

Limpopo se provinsiale kommissaris se verteenwoordiger, maj. gen Machuene Mokgonyana ontmoet TJ Maré in Polokwane.

MBOMBELA – Lt.kol. Martin van Staden en konst. Tshepo Nkuna, lede van die Limpopo polisie se amptelike motorfietseenheid, het die 911Riders verlede Vrydag by hul aankoms ontmoet en die hele roete saam met hulle afgelê.

Van Staden en Nkuna het regdeur die provinsie saam met hulle gery totdat hulle Maandag weer die grens na Mpumalanga oorgesteek het.

Twee-en-twintig motorfietse het saam in Witrivier weggetrek.

Dit was die grootste groep wat hulle tot nog toe mee begin het, vertel 911Riders woordvoerder, TJ Maré.

Ryers het ook langs die pad aangesluit en sowat 70 het Sondag saamgery.

Die ryers het vroeër vanjaar deur die land se provinsies begin toer om by polisiestasies aan te doen, veral in landelike omgewings.

Sien ook

Dit het ten doel om bewusmaking te bevorder van landelike veiligheid, plaaslike gemeenskappe te ontmoet, vir slagoffers en die polisie te bid, sowel as om petisies aan die polisie te oorhandig.

Hulle het al tot dusver Mpumalanga, die Vrystaat en verlede naweek Limpopo besoek.

Lees meer

Dit was ‘n besonderse reis. “Die polisie het werklik uit hulle pad gegaan om ons te ontvang,” sê Maré.

Die twee amptenare het met al die anders stasies en selfs die verkeerspolisie op elke dorp geskakel, wat dit baie gerieflik gemaak het. Hulle kon so, op Hoedspruit, die hele gemeenskap mobiliseer: die ryers is met ‘n omtrent vyf kilometer lange ry “erewag” buite die dorp, karre na die polisiestasie toe vergesel.

“Dit was ongelooflik lekker, hulle het die hele trip laat blom,” sê Maré – ondanks die reën en hael.

Veral Hoedspruit en Nylstroom het gevra hulle moes langer vertoef – meestal om meer saam te bid, sê Maré.

Orals het die gemeenskappe hulle ontvang. Hulle het slagoffers se families op Hoedspruit, Haenertsburg en Lephalale ontmoet. Die ryers het ook baie ondersteuning van die  motorfietsgemeenskap ontvang. Die voorsitters van die gemeenskapspolisieforums was by die meeste plekke. Die polisie in besonder het Maré beïndruk.

Hulle het ook sommer self die moeë ryers van verversings verskaf. “Daar was geen, geen, geen uitsondering nie. Dit is noemenswaardig dat 95% van die stasiebevelvoerders ons self ontvang het – oor ‘n naweek,” sê hy.

Die 911Riders beoog om deur elke provinsie te reis voor hulle volgende jaar Uniegebou toe wil gaan. Hulle het besluit om nog voor die einde van die jaar Noordwes ook in te pas.

Dit word beplan vir 1 tot 3 Desember.

Klik hier om 911Riders op Facebook te vind vir meer inligting.

Lees meer

  AUTHOR
Mireille de Villiers
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
911Riders bid vir Vrystaatse plaasaanval slagoffers